Foto’s: Afrikaanse sangers smeul in glanskalender

Steve Hofmeyr glimlag vir Willem Botha se kamera ten bate van liefdadigheid.

Steve Hofmeyr glimlag vir Willem Botha se kamera ten bate van liefdadigheid.

Talle van die land se vooraanstaande Afrikaanse kunstenaars het vir liefdadigheid voor die kameras gesmeul en is nou in ʼn spoggerige kalender te sien wat behoorlik kleur in 2019 gaan bring.

Die kunstenaars, wat almal deel is van die Afrikaans is Groot-megakonsertreeks wat tans in Pretoria en vroeg volgende jaar in Kaapstad aangebied word, is Bobby van Jaarsveld en sy suster Karlien, Monique Steyn, Jay, Steve Hofmeyr, Die Heuwels Fantasties, Elvis Blue, Corlea, Dewald Wasserfall, Bok van Blerk, Tarryn Lamb en Riana Nel.

Die wins wat gemaak word met die verkope van die kalender gaan aan Solidariteit Helpende Hand se #StopHonger-veldtog, wat poog om daagliks 8 000 behoeftige kleuters landwyd ʼn gesonde bord kos te gee.

“Om dié massiewe taak te verrig moet ons sorg dat daar altesaam 1,5 miljoen borde kos by kleuterskole aan behoeftige kinders voorberei word,” het René Roux, hoof van kommunikasie by Solidariteit Helpende Hand, luidens ʼn mediaverklaring gesê.

“Ons is dus afhanklik van skenkings om dié taak te verrig. Om perspektief te gee – die 8 000 kleuters is presies hoeveel mense elke aand die gehoor by die Afrikaans is Groot-konserte volpak. Helpende Hand is baie dankbaar vir dié inisiatief en die kunstenaars wat daarby betrokke is. Saam met hulle en die publiek kan ons almal sorg dat daar nie kleuters is wat honger gaan slaap nie,” het Roux bygevoeg.

Die kalender is die inisiatief van Suna Robberts, ʼn stileerder en grimeerkunstenaar in die vermaakbedryf.

“Ek loop al ses jaar met die idee in my kop rond dat dit lekker sou wees om ʼn kalender uit te bring. Ek het ʼn passie vir foto’s, mode en om oorboord te gaan met verskillende style. Intussen wou ek ook nog altyd betrokke raak by liefdadigheidswerk en met dié kalender kan ek nou albei my passies bymekaar bring,” het Robberts luidens ʼn mediaverklaring gesê.

Robberts het gesê die Afrikaans is Groot-kunstenaars was meer as gewillig om in te spring om die #StopHonger-veldtog te ondersteun.

“Dit was vir al die kunstenaars baie lekker om deel te wees van dié unieke fotosessies omdat dit iets buitengewoons en vir ʼn goeie doel is. Ek het besluit op ʼn blomme- en botaniese tema wat dit lekker lewendig en kleurvol maak,” voeg Robberts by.

Die Afrikaanse sanger Willem Botha het al die foto’s geneem en geredigeer. “Hy wys met die eindproduk dat hy nie net kan sing nie, maar ook baie goeie foto’s kan neem. Ons hoor net goeie goed oor die kalender,” het Robberts afgesluit.

  • Die kalenders is eksklusief aanlyn beskikbaar op Maroela Media se winkel teen R120. Dit word ook by die Afrikaans is Groot-konserte verkoop. Kliek hier.
  • Om die #StopHonger-veldtog te ondersteun besoek stophonger.co.za of stuur STOP na 38969 om ʼn R10 skenking te maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Krulletjie ·

Dis n fantastiese idee. Hoop alle Suid Afrikaners ondersteun die inisiatief?

Nommer ·

Pragtig. Wou dit bestel, maar hoekom is die maande se name in ENGELS????? Ag nee.

Zel ·

Baie goed gedoen.
Ek sou net die dae vd week ook opgesit het en in Afrikaans.

Sune van Heerden ·

Dagsê Nommer

Ons het van die kalenders by ons in die kantoor nagegaan en kan bevestig die maande is beslis in Afrikaans aangedui op die kalender self. Ons sal binnekort die foto’s by hierdie artikel verander om seker te maak dat dit die korrekte Afrikaanse name aandui.

Bestel dus gerus vir jou een van dié mooi verjaarsdagkalenders.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Amanda ·

Absoluut fantasties – al my helde daarop – helemal fantastiese idee.

LB S ·

Ons het darem maar ‘n paar mooi sangers in hierdie land, dan nog Afrikaners!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.