Foto’s: Agter die skerms by Reynardt Hugo se jongste musiekvideo

Reynardt Hugo op die stel van ‘Diep binne my’. (Foto: Verskaf)

Reynardt Hugo se jongste enkelsnit getiteld “Diep binne my” is pas uitgereik. Dié snit volg op sy suksesvolle debuutsolo-enkelsnit “Die rivier” wat vroeër vanjaar uitgereik is.

Die sukses van dié snit het sy voete stewig in die Afrikaanse musiekbedryf sement as solokunstenaar nadat die groep ADAM, waarvan hy ʼn dekade lank lid was, ontbind het.

Hugo is ook bekend vir sy vertolking van die rol van dr. Tertius Meintjies in die kykNET-sepie Binnelanders.

Volgens Hugo is “Diep binne my” ʼn liefdeslied wat losweg geskoei is op die Bybelse beeld van die pottebakker. Hy vertel sy verloofde, An-Maré Roothman, was besig om roosmarynplantjies en laventel nat te lei n hulle tuin in Johannesburg toe die lirieke vir die lied by hom opgekom het.

“Ek het gedink aan die woorde ‘laventel en roosmaryn, reuke wat vir jou baklei’ en gedink dit is so mooi as iemand vir jou kan baklei en kan sê hulle is lief vir jou en wil dinge maak werk, al is dit hoe moeilik,” vertel Hugo aan Maroela Media.

Hy sê net soos “Die rivier” het “Diep binne my” ook ʼn gewyde ondertoon, sonder dat hy dit noodwendig so beplan het. Sean Butler het “Diep binne my” saam met Hugo geskryf.

“Ek het so lief geraak vir Sean. Hy is die mees plat op die aarde mens wat ek nog ontmoet het. Ons het ontmoet by Capital Singers en ek het altyd geweet wie hy is. Ons albei woon in Johannesburg en ons paaie het later gekruis. Hy is ʼn ongelooflike vervaardiger en ʼn mens wat my so gemaklik laat voel. Ons praat dieselfde taal en hy is iemand wat ook daarvan hou om grense te verskuif.”

Hy meen dit is een van die voordele om nie aan ʼn platemaatskappy geheg te wees nie en onafhanklik musiek te maak. “Ek kan doen net wat ek wil, en Sean verstaan dit. Ek dink hy is ook op ʼn plek in sy lewe waar hy ook lus is vir ʼn uitdaging. Ek dink ‘Diep binne my’ is definitief iets anders.”

Hugo vertel dat die lied vir hom baie beteken aangesien hy homself in soortgelyke omstandighede bevind het. “Ek moes besluit of ek my lewe wil omdraai, vergifnis vra en aan myself wil werk om by ʼn plek van waarheid uit te kom. Dit is nie altyd maklik nie, dit is ʼn moeilike pad om te stap, maar definitief die moeite werd. Ek dink oud en jonk sal by die liedjie aanklank vind, omdat dit ʼn verskillende betekenis vir elkeen kan inhou.”

Die musiekvideo is in Northcliff in Johannesburg geskiet. Hugo en die Kaapse aktrise Shana Mans is in die video te sien. Johannes Schoutsen is die regisseur.

Volgens Hugo was dit ʼn groot voorvereiste dat sy mede-aktrise baie goeie akteursvaardighede moes hê. “Ek wou die storie vertel met die video. Ek wou ʼn vertoning lewer. Die video het ongelooflik mooi uitgekom.”

Die musiekvideo is op 12 Oktober om 10:00 vir die eerste keer op Maroela Media te sien.

“Diep binne my” is op alle digitale platforms beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.