Foto’s: Agter die skerms van Ricus Nel se nuwe video

Ricus Nel op die stel van sy nuwe video. (Foto: Verskaf)

Ricus Nel se nuwe album, Ploeg jy?, word eers in Oktober uitgereik, maar die eerste liedjie vanuit die album – ook getiteld “Ploeg jy” – sal op 24 September beskikbaar wees.

Die musiekvideo vir die tong-in-die-kies-liedjie is onlangs geskiet en handel oor ʼn gewone boer wat baie meer aandag van die dorp se meisies kry as van die ander boere op dieselfde plaas – en dit omdat hy ʼn groot trekker het waarmee hy die lande ploeg.

Die hoofkarakter in die video word vertolk deur Hamilton Wessels, die bekende televisieaanbieder van onder meer die Virseker Beker op kykNET. Die spiertier-boer word vertolk deur Bennie Kotzé, oftewel Big Ben, ‘n persoonlike afrigter.

Die musiekvideo is geskiet by Modelpak, ʼn groot kommersiële boerdery naby Brits, en die span van om en by 20 mense was douvoordag reeds op die stel om voor die aandklok tuis te wees.

Die video is vervaardig deur Johan C Venter, wat vir die meeste groot musiekvideo’s vanuit die Coleske Artists-kamp verantwoordelik is. Die musiekvideo is geskiet deur Eric T Graham.

Ricus Nel op die stel van die video vir ‘Ploeg jy?’. (Foto: Verskaf)

“Ons was vroeg uit die vere en ek het wonderlike akteurs en ʼn paar mooi meisies saam met my in die video. Dit gaan baie lekker wees en ek kan nie wag om dit met julle te deel nie,” vertel Nel oor die video.

Hy vertel “Ploeg jy?” is die eerste liedjie wat hy vir die album geskryf het, maar daarna het daar ook ʼn klomp ander “stoute” stories ontwikkel.

“Daar is ʼn liedjie getiteld ‘Marico mampoer’, ʼn storie wat ek vertel oor die ‘Ysterwiel kruiwa’, en ‘Mamma, ek wil ʼn vrou hê’ – ek het mos maar gesukkel om ʼn vrou te kry,” skerts Nel, wat getroud is met die sangeres Liza Brönner.

Hulle het onlangs ʼn babadogtertjie ryker geword. Haar naam is Lisa-Bella.

“Ploeg jy” is vanaf 24 September oral beskikbaar, maar die vollengte-album is eers amptelik op 8 Oktober beskikbaar. Skakel op 8 Oktober in vir die regstreekse bekendstelling van die album op Toks en Tjops.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.