Foto’s: Duisende feesgangers span uit by Proe’toria-fees

Duisende feesgangers het Saterdag die Proe’toria-fees in die ooste van Pretoria bygewoon. (Foto: Maroela Media)

Nagenoeg 2 000 opgewonde feesgangers het Saterdag by die Proe’toria-fees in die Jakarandastad opgedaag om kunstenaars soos Martin Bester, Ampie, Refentse, Karen Zoid en Die Heuwels Fantasties in lewende lywe op die verhoog te sien.

Talle gourmet kos- en drankstalletjies het verligting gebring in die bloedige Pretoria-hitte en ’n speelpark vir kinders met verskeie wateraktiwiteite het gesorg dat die jongspan koel bly.

Die uitgestrekte landgoed van die Monte de Dios-venue in die ooste van Pretoria, waar die fees aangebied word, bied oorgenoeg ruimte vir feesgangers wat voor die verhoog wil uitspan, tussen die stalletjies wil ronddrentel en selfs onder die koeltebome ʼn yskoue boetiekjenewer, niswyn of bier wil geniet.

Die fees strek oor die hele naweek. Jo Black, Riana Nel, Jemma Catherine, Janie Bay en Early B is Sondag onder meer op die verhoog te sien.

Die gewilde Jacaranda FM-persoonlikheid Thabiso Khambule is die naweek se gasheer.

‘n Paar feesgangers het seker gemaak hulle kry vroeg-vroeg reeds ‘n sitplekkie voor die Proe’toria-verhoog. (Foto: Maroela Media)

Volgens Wian Smith, hoof van The Marketing Zoo, is feeskaartjies vir Saterdag se geleentheid uitverkoop, maar daar is nog kaartjies beskikbaar vir Sondag. Die verrigtinge skop Sondag om 10:00 af en eindig om 18:00.

“Ons is dankbaar om weer te kan fees vier en dit nog in oormaat ook,” het Smith aan Maroela Media gesê.

“Dit sou nie moontlik wees sonder die publiek se ongelooflike ondersteuning nie. Môre maak ons weer so en almal is welkom.”

Kaartjies kos R150 en is beskikbaar by Tixsa. Daar is ook BBP-pakkette beskikbaar teen R750 elk, wat BBP-toegang, BBP-parkering, middagete, onbeperkte water en ʼn bottel wyn insluit.

Besoek Proe’toria op FacebookInstagram of Twitter vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.