Foto’s: Iets vir almal by Pretoria Buitelug Ekspo en Fees

‘n Verskeidenheid van sangers en musikante kan by die Pretoriafees gehoor word. (Foto: Maroela Media)

Wonder jy of daar nog iets is wat jy vanmiddag kan doen om die hele gesin te trakteer? Gaan maak dan ʼn draai by die Pretoria Buitelug Ekspo en Fees waar daar iets is wat almal se belangsteling sal prikkel.

Nie net spog die Pretoria-fees met meer as 100 000 vetplante en 40 000 proteas nie, maar daar is ook ʼn verskeidenheid van tuingereedskap wat almal met groen vingers se harte vinniger sal laat klop.

By die buiteluguitstalling kan feesgangers na die nuutste luukse woonwaens, motorbote en elektriese motorfietse gaan loer.

Die jongspan kan gaan uitspan op ʼn heerlike speelterrein, terwyl die adrenalienverslaafdes hulle eie 4×4-voertuie deur ʼn reeks passies kan sit of ʼn Nissan GTR-sportmotor kan kom toetsbestuur.

Feesgangers geniet die vermaak by vanjaar se Pretoria Buitelug Ekspo en Fees. (Foto: Maroela Media)

Feesgangers kan verder uitsien na smullekker kos vir elke sak en smaak, asook ʼn verskeidenheid verversingstuine wat alles van tee tot wyn bedien.

Musiekliefhebbers wat gou spring, kan ook nog vanmiddag sangers soos Bok van Blerk, Karlien van Jaarsveld en Du Preez en Band op dié fees se verhoog sien.

Trek jou tekkies aan en laai die kampstoele in die motor en kom geniet ʼn veelsydige fees, wat pret en vermaak vir die hele gesin beloof. Die Pretoria‑fees word saam met kykNET, MTN, Pretoria FM, Maroela Media en die Water Pump‑groep by die Legends MX-avontuurplaas aangebied.

#Diswaarjywilwees, dis by die Pretoria Fees.

Vir meer inligting, feesprogramme en om kaartjies te bespreek en aanwysings na die feesterrein te kry, besoek die fees se webwerf hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.