Foto’s: ‘In Afrikaans’ pak Hartenbos-amfiteater vol

skare in afrikaans

‘n Lugfoto van die skare. (Foto: Lumico)

Die “In Afrikaans”-konsertreeks, wat gedurende die vakansietydperk op Hartenbos in die Wes-Kaap plaasgevind het, se galageleentheid op 30 Desember het ʼn skare van 12 000 mense getrek.

Vir die eerste keer ooit was kaartjies vir die geleentheid by die Hartenbos-amfiteater op dié gewilde kusdorp uitverkoop. Bekende Afrikaanse kunstenaars soos Theuns Jordaan, Robbie Wessels, Karen Zoid, Jo Black, Appel, Elvis Blue, Refentse, Lianie May, Dewald Wasserfall, Leah, Bok van Blerk, Karlien van Jaarsveld en Fatman het dié gehoor gaande gehad met hul treffers.

Die “In Afrikaans”-konsertreeks het vakansiegangers bederf met topgehalte aanbiedings en nie een produksie is oorgesien nie.

Die immergewilde rock-sangeres Karen Zoid was veral opgewonde oor haar eerste optrede saam met Refentse, wat volgens Zoid “’n uiters ervare sanger” is. “Ek is mal oor sy stem en sy selfvertroue,” het Zoid bygevoeg.

in afrikaans skare strand

(Foto: Lumico)

Volgens Die brug-sanger Elvis Blue was dit die soort konsert waarvan jy as kind droom. “Hartenbos is ʼn lieflike plek en boonop is daar 12 000 mense wat jou aanmoedig!”

Diegene wat van die konserte bygewoon het, kan steeds nie uitgepraat raak oor die ongelooflike dinamika van ons land se topkunstenaars saam op een verhoog nie.

ʼn Bekende besoeker aan dié konsert, Zelda le Grange, het gesê sy kon die passie van die konsertgangers sien. “Dis Hartenbos, die Kaap en Afrikaans op sy beste!”

Volgens Jacomien de Villiers, organiseerder van die fees, wou hulle graag die tradisie van die ATKV en die jaarlikse Kerskonserte behou, maar het dit ʼn nuwe kinkel gegee. “Ons wou iets unieks doen en graag hê dat die liedjies mense se harte in die oomblik moet vasgryp,” het sy bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Zuzette Moolman ·

Dit was n groot konsert. Maar te groot vir n kleindorpie soos Hartenbos en die organiseerders. Ons was reeds teen 5 uur deur die ingang, waarna ons ure lank in rye moes staan vir iets om te drink en te eet. Dus het meeste van die skare vanuit die talle rye gestaan of iets van die konsert te probeer sien. Dit was glad nie plesierig.

Vis ·

Stem saam Zuzette. Ons het voor die tyd kaartjies gekoop en gesukkel om in te kom of om ‘n ordentlike plek te kon kry om te sit. Die kaartjie verkope moes eerder beperk word om sodoende minder mense en dan beter sitplekke vir die mense te gee. Dit was ‘n nagmerrie om in die rye te moes staan vir iets te drink of ete. Was regtig teleurgestel met die beplanning, maar die kunstenaars was goed.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.