Foto’s: Jacaranda FM se e-konsert samel duisende in

Demi Lee Moore in aksie tydens die “Good Morning Angels” virtuele konsert. (Foto: Tim Moolman.)

Die Good Morning Angels (GMA) virtuele konsert, waar kunstenaars soos Prime Circle, Demi Lee Moore, DJ Jazzy D, Martin Bester en Refentse opgetree het, het sowat R350 000 ingesamel.

Dié konsert wat aanlyn op 27 Junie aangebied is, sal nie net help om die sangers te ondersteun in ʼn tyd waar hulle nie regstreeks kan optree nie, maar 50% van die opbrengs word ook gebruik om die GMA-inisiatief te finansier. Dit is deel van Jacaranda FM se ontbytprogram met Martin Bester en die inisiatief help mense in nood met noodsaaklike hartoperasies, Covid-19-hulpverlening, welsynsprojekte en die ontwikkeling van belowende jong talent asook bewaringsprojekte.

Kykers van reg oor Suid-Afrika, en selfs verder, het die voorste sitplekke ingeneem vir een van die grootste vermaakhoogtepunte van 2020. Die twee en half uur lange konsert het akoestiese weergawes van die sangers se gunsteling-treffers bevat wat op ʼn behoorlike konsertverhoog gespeel is.

“Ons is waarlik nederig oor die ondersteuning wat ons ontvang het vir die GMA-konsert – van ons fantastiese vennoot, Tracker, asook al die mense wat by ons vir ʼn heerlike warm vertoning aangesluit terwyl hulle hul harte oopgemaak het vir mense in nood.

“Goeie musiek en die ondersteuning van sake wat ons gemeenskap raak staan bo-aan Jacaranda FM se doenlys. Dit was ʼn voorreg om die twee te verenig om nie net te vermaak nie, maar ook ʼn helpende hand te kan gee waar dit die nodigste is,” sê Deirdre King, besturende direkteur van dié radiostasie.

Leith Smith, bemarkingsbestuurder van Jacaranda FM, voeg by: “Covid-19 bied ’n paar unieke uitdagings vir die aanbied van geleenthede, maar hierdie konsert, wat die eerste van talle soortgelyke konserte gaan wees, wys presies hoe vindingryk die A-spanne van radio kan wees. Ons pas aan by verandering, brei ons gehore uit, en laat hulle telkens terugkom vir meer terwyl ons konsekwent meer as die verwagting van die kliënt lewer. ”

“Om by die GMA-konsert betrokke te wees was vir ons beslis ’n onverwagte hoogtepunt op die geleentheidskalender vir 2020. Nie net kon ons help om van die beste musikale talent in Suid-Afrika te vertoon nie, maar dit was ook ʼn kans om aan mense in nood terug te gee,” het Michael du Preez, uitvoerende hoof van bemarking en produkinnovasie by Tracker gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.