Foto’s: Joe Foster se nuwe video ‘iets vir die oog’

joe foster

Joe Foster op die dak van die Chambord-gebou in Pretoria. Foto: Verskaf

Die gewilde sanger en liedjieskrywer Joe Foster het eksklusief foto’s gedeel van die aksie agter die skerms van sy splinternuwe musiekvideo vir sy liedjie “Vrede maak”.

Die video is met sonsopkoms op die dertiende verdieping van die Chambord-gebou in La Montagne, Pretoria, geskiet.

Foster vertel die video is baie simbolies en het nie ‘n storielyn soos sy vorige video’s nie. “Ons maak mekaar seer met woorde en maak reg met intimiteit en fisiese kontak,” sê hy.

“Die twee wêrelde van seine uitstuur en fisiese kontak verskil hemelsbreed. Ek wou dit só uitbeeld. Die danser stel fisiese kontak voor en ek sing woorde tussen skottels en senders op die dak van ‘n dertien verdieping hoë gebou.”

“Dit gaan oor vrede maak deur nie net jammer te sê nie, veral as jy met jou woorde iemand seer gemaak het,” sê hy. “Om iemand fisies vas te gryp, op te raap en jammer te sê deur fisiese liefde.”

Foster sê die uitsig wat te sien is in die video is ‘n hoogtepunt waarna kykers kan uitsien. “Dit is mond-oophang mooi! Ek stap op die randjie van die gebou se dak. Dit was vreesaanjaend, maar ontsagwekkend!

“En ja,” skerts hy, “natuurlik het ek seker gemaak die danser Ruan de Villiers is iets vir die oog – en sy passies is iets om na uit te sien. Hy is iets om te aanskou.”

Foster het die video self vervaardig en aanhangers kan reeds op Maandag, 4 Desember, daarvoor uitkyk op sosiale media. “Vrede maak” is ook eksklusief beskikbaar vir aankope by die Joox-musiekstroom app.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

sonja coetzee ·

JOE FOSTER SING SOOS N REGTE ENGEL IS ABSOLUUT MAL OOR SY MUSIEK.TOE HY NOG VIR ADAM GESING HET WAS HY PUIK!!!MAG SY SANGLOOPBAAN NOG STERKER EN STERKER GAAN EN ONS AFRIKAANSE MUSIEK VOORTLEEF.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.