Foto’s: Kersliedere se impak ’n sukses ondanks gure weer

Jo Black doen sy solo in ‘n tong-in-die-kies weergawe van “The Twelve Days of Christmas” Foto:

Spar se Carols by Candlelight met Jacaranda FM, ʼn hoogtepunt op Gauteng se feestydkalender, het die Kersseisoen op ʼn hoë noot afgeskop, eers op 7 Desember by St. Stithians College in Johannesburg en op daarna op 10 Desember by die Moreletapark-gemeente in Pretoria.

Altesaam 125 reusebokse speelgoed vir behoeftige kinders, 25 bokse verligtingsvoorraad vir Mamelodi-vloedslagoffers en R30 000 vir Jacaranda FM se Good Morning Angels is ingesamel.

Albei geleenthede moes binnenshuis aangebied word weens gure weer en, hoewel spasie beperk was, was dié twee venues gepak en was daar geen keer aan die gehoor se feestydgees en vrygewigheid nie.

Die Johannesburg-gehoor het verskeie top-kunstenaars sien optree: Tarryn Lamb, Roan Ash, Swing City, die Ndlovu Youth Choir en die Soweto Gospel Choir het die verhoog gedeel met Matthew Mole, Lira, Rubber Duc en Paxton.

Pretoria het nie teruggestaan nie met Tarryn, Roan, Swing City, die Ndlovu Youth Choir en Soweto Gospel Choir, dié keer saam met Jo Black, Riana Nel, Joshua na die Reën en Early B.

Jacaranda FM-aanbieders soos Martin Bester, Liesl Laurie, Elma Smit, Elana Afrika-Bredenkamp, Rozanne McKenzie, Alex Jay en Rian van Heerden het ook hul feestydbaadjies aangetrek terwyl die radiostasie regstreeks met uitsendings voortgegaan het.

Ten spyte van die onweer het Spar seker gemaak dat die kleinspan deeglik vermaak word met springkastele, gesigverf, speletjies, handwerkkuns, verskeidenheidskunstenaars en flieks.

Toegang na albei konserte was gratis, maar konsertgangers is aangemoedig om ’n speelding aan ’n behoeftige kind te skenk en om Jacaranda FM se Good Morning Angels te ondersteun deur elektroniese Kers- en sangboekverkope.

Piet van Vuuren, binnelandse advertensie- en promosiebestuurder van Spar (SA), het goedgunstiglik ’n ekstra R50 000 geskenk om seker te maak dat die effek van die weer nie ’n verdere impak sou hê op die aantal kinders wie se Kersfees opgehelder kon word met ’n nuwe speelding nie.

’n Verdere 25 reusebokse voorraad ter verligting van mense se nood ná die onlangse oorstromings is ook ingesamel om slagoffers in Mamelodi, oos van Pretoria, by te staan.

Spar Carols by Candlelight met Jacaranda FM is reeds heelwat langer as ʼn dekade ʼn groot feesseisoen-hoogtepunt – ʼn geleentheid wat ons bevoorreg is om saam met ʼn uithaler-borg aan te bied. Jaar ná jaar word ons oorweldig deur die elektriese atmosfeer, die eenheid, die goedhartigheid en die hoop wat hierdie geleentheid bring,” het Leith Smith, Jacaranda FM se bemarkingsbestuurder, gesê.

“Selfs al moes ons dit binnenshuis aanbied, het duisende mense uit alle oorde steeds by ons aangesluit om hulle gunsteling-feestydliedjies, uitgevoer deur van Suid-Afrika se gunsteling-kunstenaars, saam met geliefdes te geniet en om kinders te help wat hulle dalk nooit sal ontmoet nie. Dit is presies die Jacaranda FM gees. Ons wil graag elke persoon wat bygedra het tot hierdie jaar se Carols-sukses bedank en wens die hele Suid-Afrika ’n blye, geseënde en veilige feestyd toe.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae