[Foto’s] Marcato ruk-en-rol nou in Afrikaans

Die rockgroep Marcato (Foto: Facebook)

Die gewilde rockgroep Marcato is vandeesweek in ʼn volgepakte Bosvelder in Centurion staande toegejuig toe dié groep sy eerste volledige Afrikaanse album, Vrede vir almal, uitgereik het.

Aanhangers van dié groep het ook ʼn eksklusiewe kykie gekry na die groep se musiekvideo vir hul jongste enkelsnit, “Silhoeëtte”, wat ook op die aand bekendgetel is.

Marcato, ʼn groep wat al bykans ʼn dekade lank musiek maak, bestaan uit Pieter Marcato (sang en kitaar), Ben van Zyl (stem, kitaar en klavier), Euan Nel (trommer), Jerry Spangenberg (elektriese kitaar) en Erik Swart (baskitaar). Dié manne het die laaste paar jaar ʼn groot indruk op die musiekbedryf gelaat met twee albums: When His Whistle Blows en hul Simon & Garfunkel-album, ʼn hoogsgewilde album wat saamgestel is uit ʼn huldeblyk-optrede aan dié Amerikaanse groep.

Marcato tydens hul albumvrystelling in Pretoria (Foto: Bernice Fisher Fotografie)

Hoewel die groep in die verlede vier Afrikaanse liedjies uitgereik het, is dié hul eerste volledige Afrikaanse album.

Pieter sê dié album is geskryf en vervaardig op aandrang van hul aanhangers. “Ons het vir jare net Engels gesing, maar mense het ons bly vra wanneer ons ʼn Afrikaanse album gaan uitreik. Ons is tog almal Afrikaans, so ons het gedink ons sal dit ʼn kans gee,” vertel hy.

Dié album trek baie aandag. Die enkelsnit “Silhoeëtte” word deur aanhangers beskryf as “grensverskuiwend en uniek” en “rock op sy beste in Afrikaans”.

Marcato tydens hul albumvrystelling in Pretoria (Foto: Bernice Fisher Fotografie)

Pieter sê dié liedjie is gebore tydens ʼn toer toe die groep vir twee nagte op Spangenberg se ouers se plaas in Kuruman oorgeslaap het. “Dis pikstikdonker daar – en dit help ook nie dat die plaas grootliks van sonkrag gebruik maak nie,” vertel hy. “Ons het maar meeste van die tyd deurgebring deur te braai of te kuier. Elke aand, wanneer net die maan die plaas verlig het, was die silhoeëtte van die berge en die maan duidelik. Toe ʼn donderstorm op die tweede aand op die plaas uitsak, is dié liedjie gebore.”

“Die terugvoer in dié stadium is positief. Die album is maar pas beskikbaar, maar mense sê reeds baie goed daaroor en hulle was ook baie positief by die amptelike uitreiking. Ons wag maar nog en kyk hoe dinge in die toekoms gaan lyk, maar dit lyk asof mense die musiek gaan geniet.”

Vrede vir almal kan binnekort by alle digitale musiekwinkels afgelaai word. Die musiekvideo vir “Silhoeëtte” word op 20 November amptelik op YouTube bekendgestel. Vir meer inligting besoek die groep se webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Willem ·

Eke het Marcato al n paar keer gesien optree in Pta en Johannesburg. Mense ruk hand uit by die shows!! Hierdie ouens maak goeie musiek! Goeie werk julle ouens, nuwe album is bevange!

Magda ·

Die CD is een van daardie seldsame saamgestelde cd’s waarna jy na elke snit oor en oor kan luister en jy nie moeg raak daarvoor nie (ek weet want ek luister nou al vanaf die bekendstelling daarna, oor en oor). Elke snit is volgens my goed genoeg om n treffer te wees. Dit is ook raar om n groep te kry wat op hul lewendige optredes net so goed klink as op hul cd, in Marcato se geval is dit wel so. Puik cd deur n puik groep. Baie geluk mag die cd vinnig die hoogtes inskiet, julle verdien dit.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.