Foto’s: Rekords spat op Grammys

Beyoncé is met die toekenning vir beste R&B-aanbieding vereer. (Foto: Kevin Winter/The Recording Academy/AFP)

Die Amerikaanse supersterre Beyoncé en Taylor Swift het Sondag die rekords laat spat op die 63ste jaarlikse Grammy-toekennings by die Los Angeles Convention Centre in Kalifornië.

Beyoncé het haar 28ste Grammy-toekenning ingeoes vir haar album Black Parade in die kategorie vir beste R&B-aanbieding. Sy is amptelik die vrouekunstenaar wat tot dusver die meeste Grammys huis toe gevat het en steek so die bluegrass-sanger Alison Krauss verby.

Swift het ook die eerste vrouekunstenaar geword wat vir die derde keer die toekenning vir album van die jaar gewen het. Haar album Folklore is met dié toekenning vereer. Sy het voorheen die beeldjie vir album van die jaar gewen vir Fearless in 2010 en 1989 in 2016.

Slegs drie ander kunstenaars het die toekenning vir album van die jaar drie keer gewen: Frank Sinatra, Paul Simon en Stevie Wonder.

Die toekenningsgeleentheid is afgeskop met drie optredes deur Harry Styles, Billie Eilish en die groep Haim. Soos met ander toekenningsgeleenthede die afgelope jaar was daar geen gehoor teenwoordig tydens die seremonie nie.

Billie Eilish. (Foto: Kevin Mazur/The Recording Academy/AFP)

Styles het sy treffer “Watermelon Sugar”, wat later met die beeldjie vir beste pop-solo-aanbieding vereer is, gesing. Dit maak hom die eerste lid van die voormalige popgroep One Direction wat ʼn Grammy wen, hetsy as solokunstenaar of in ʼn groep.

Die kletsrymer Megan Thee Stallion is met drie beeldjies, onder meer een vir beste nuwe kunstenaar, huis toe.

Megan het haar ma, wat in 2019 weens ʼn breingewas gesterf het, in haar toespraak bedank. “Sy kan nie vanaand saam met my hier wees nie, maar sy het altyd geweet dat ek by die Grammys sal wees. Ek sou sê ag ma, dit is nog so ver weg, maar dit het so gou gekom. Ek is baie dankbaar dat ek hier is.”

Ander wenners sluit in Dua Lipa, wat die toekenning vir beste pop-vokale album gewen het, asook Lady Gaga en Ariana Grande, wat die eerste vroueduo geword het wat die toekenning vir beste pop-samewerkingsnit vir “Rain on me” gewen het.

Die Suid-Afrikaanse komediant Trevor Noah was die seremoniemeester.

Mode

Hoewel daar geen toeskouers was om vanjaar se modekeuses langs die rooi tapyt te waardeer nie, het sommige bekendes sosiale media aan die gons met hulle modekeuses vir die Grammys.

Noah Cyrus, wat vanjaar benoem is vir beste nuwe kunstenaar, het ʼn uitrusting deur Schiaparelli Haute Couture gekies. Sosialemediagebruikers het Cyrus, suster van die bekende Miley Cyrus, se rok op sosiale media vergelyk met alles van ʼn enorme oester tot ʼn duvet en ʼn opgefrommelde snesie.

Dua Lipa het glansryk gelyk in ʼn glinsterende rok met ʼn skoenlappermotief deur Versace. Megan Thee Stallion het ʼn helderoranje Dolce & Gabbana-skepping gekies terwyl Doja Cat ʼn gewaagde Roberto Cavalli-rok met ʼn neongroen veresleep gedra het.

Nuweling Phoebe Bridgers het die koppe laat draai in ʼn geraamte-geïnspireerde rok deur Thom Browne.

Trevor Noah het ʼn eenvoudige Gucci-pak en swart das gekies terwyl die Koreaanse popgroep BTS in ensembles deur Louis Vuitton verskyn het. Harry Styles het ʼn groen geruite baadjie en pers vereboa gedra.

Bronne: CNN, BBC

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Annelize ·

Ja, duidelik het die pandemie nie net inkomste en sosiale samesyn ingeperk nie, maar ook heelparty mense se modesmaak.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.