Foto’s: Ruhan du Toit vier drie dekades van musiek met partytjie, nuwe album

Ruhan du Toit. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

Vir die afgelope 30 jaar het die sanger en liedjieskrywer, Ruhan du Toit, bekendheid verwerf vir die kragvertonings wat hy lewer.

Met sy veelsydige vertolking van verskillende musiekgenres, wat oor ses tale en vier oktawe strek, is hy ewe tuis op ʼn internasionale verhoog as om ʼn bosveldvuur met ʼn handvol uitgesoekte gaste.

Sy jongste album, eenvoudig getiteld, Ruhan du Toit, is beide ʼn voortsetting én viering van die afgelope 30 jaar.

Dié splinternuwe album is pas uitgereik, en bevat snitte getiteld “Stockholm sindroom”, “Donkermaan”, “Mag ek jou laaste wees” en “Eerder nou”. Daar is ook ʼn lieflike FAK-keurspel in die album te hoor.

Deur die jare heen het twee reëls vir Ruhan byna ononderhandelbaar in die musiekbedryf gebly: om ongeag die jongste giere getrou aan homself as kunstenaar te bly, en om nooit sy menslikheid te verloor nie.

“Ek het van jongs af geleer dat ʼn sangloopbaan opoffering verg,” vertel Ruhan, wat in 1994 op 11-jarige ouderdom as klein blondekop-seuntjie reeds sy eerste album, Die Hemel is, die lig laat sien het.

Danksy sy ouers, Johan, oftewel “Twakkies”, en Zelda du Toit, wat ook tuis agter die mikrofoon is, kon hy van jongs af sy droom uitleef. Ook sy jonger broer, Jeanré, is ʼn kranige sanger.

Die Du Toits het ook gereeld as gesin saam by kerkbasare, kermisse, ouetehuise en skoolsale opgetree.

“Ek het op ʼn gevangenisterrein grootgeword en moes saans altyd vroeër as my maats ingaan huis toe as dit koud was om my stem te beskerm. Rugbywedstryde is ook baie Saterdae vir optredes prysgegee.”

Ruhan en sy broer, Jeanré, het vir tien jaar lank as ʼn duo opgetree waartydens hul saam twee duetalbums uitgereik het en boonop die top-20 van die destydse kykNET-talentkompetisie, Zing, gehaal het.

In 2012 tref ʼn “groot genade” hom in die vorm van Touch of Class se Deon van der Merwe, maar in 2019 verlaat hy dié gesogte musiekduo om weer op sy solo-loopbaan te fokus.

Ter viering van Ruhan se drie dekades in die musiekbedryf, het hy vroeër vandeesweek ʼn eksklusiewe voorskou van die jongste album by Maroela Media se kantoor in Pretoria aangebied.

Ruhan het bewoë vir ʼn skare luisteraars gesê hy is uiters trots op sy jongste album en sien uit daarna om dit met sy aanhangers te deel.

“Wat ʼn voorreg om so lank al deel van die Suid-Afrikaanse musieklandskap te wees,” sê Ruhan oor dié mylpaal.

Die album, Ruhan du Toit, is beskikbaar op alle groot digitale platforms.

  • Luister hier na die album.
  • Lees meer hier oor Ruhan du Toit en sy viering van 30 jaar in die bedryf.

Luister hier na ‘n paar van die liedjies in die nuwe album getiteld Ruhan du Toit:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.