Foto’s: Steve en Demi verras Proe’toria-feesgangers

Proe’toria-fees het vir topvermaak gesorg. (Foto: Maroela Media)

Irene-Louise van Wyk, Bobby van Jaarsveld, Demi Lee Moore, Sunset Sweatshop, Die Heuwels Fantasties en Die Kontrak se Samantha Leonard en Dodo Nyoka is van die kunstenaars wat Proe’toria-feesgangers die naweek behoorlik op hulle voete en aan die dans gehad het.

Dié fees is op 4 en 5 Maart by die Pretoria Botaniese Tuin aangebied, en hoewel dit op albei dae sommer vroegdag al snikheet warm was, het vriende, familie en kennisse heerlik onder die koeltebome op komberse en stoele uitgespan.

Riaan Grobler, gewilde radio-omroeper en sanger wat tans daagliks op Pretoria FM te hoor is, was die seremoniemeester wat deurentyd heerlike pryse weggee het.

Saam met musiek en klanke uit die boonste rakke, was daar ook ʼn verskeidenheid gourmet kos- en drankstalletjies vir feesgangers om van te kies en keur: van uitsoekkos en lekkernye, tot kuns, jenewer, wyn en kunsbier.

Sunset Sweatshop op die Proe’toria-verhoog. (Foto: Maroela Media)

Een van Saterdag se hoogtepunte was Bobby wat na ʼn blaaskans van vier jaar weer sy musiek met aanhangers kon deel.

Sondag het op ʼn spesiale noot met gebed en ʼn boodskap van Nadia Vorster afgeskop. Dit is gevolg deur lofprysing saam met ʼn orkes waarna feesgangers nadergeskuif het vir ʼn Joe Niemand-optrede.

Samantha Leonard en die straatdansers van Menlyn wat sy by haar Proe’toria-optrede betrek het. (Foto: Maroela Media)

Nog ʼn hoogtepunt was Samantha wat Sondag op pad na die fees, vier dansers langs die pad gesien en besluit het om hulle by haar optrede te betrek.

Die kwik het selfs nog hoër gestyg met Demi Lee Moore wat Steve Hofmeyr tydens haar optrede op die verhoog geroep het om saam met haar hulle duet “Amanda” te sing.

Die Proe’toria-fees is moontlik gemaak deur Belgravia, EPH Group, Monte de Dios, Maroela Media, Pretoria FM, Caring Daisies, kykNET, Ontbytsake, LIFT, Insight Outdoor, The Marketing Zoo en MitMak Motors.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

TinieBergh ·

Ons hier in die noorde, sal ook graag van sulke gebeurtenisse (events) wil weet. Maar dankie vir die berig; vertrou ons mense het die vertoning baie geniet.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.