[Foto’s] ‘Uitkampteater’ ʼn groot trekpleister by KKNK

Karen Zoid by haar Afskopkonsert. Foto: Verskaf

Karen Zoid by haar Afskopkonsert. Foto: Verskaf

Kunstefees-entoesiaste het nog net vandag en more om vanjaar se KKNK, wat vir die 22ste keer aangebied word, by te woon. Dié fees spog vanjaar met ʼn uitkampteater waar verskeie kunstenaars in treffende produksies gesien kan word.

Elke vertoning in die uitkampteater vind in sy eie tentjie plaas. Die naam “uitkampteater” is geïnspireer deur die Nederlandse woord “Tentjestheater” met dieselfde betekenis.

Die KKNK het die Uitkampteater-projek Donderdag tydens ʼn funksie in die Queens Hotel bekendgestel. Die Ambassadeur van Nederland in Suid-Afrika, Marisa Gerards, het gesê sy is baie opgewonde daaroor dat hierdie innoverende teaterkonsep nou in Suid-Afrika aangebied word.

Die uitvoerende hoof van Kunste Onbeperk en aanbieder van die KKNK, Rhodé Snyman, het gesê dit is ʼn voorreg vir die KKNK om dié projek aan te pak. “Ons hoop dié nuwe soort teater kan groei om voortaan deel van feeste te word en dat ander feeste dit ook sal aangryp,” het sy gesê.

Die kunstenaars van die tien Uitkamp-produksies het vroeër die week aan ʼn werkswinkel oor die nuwe teaterformaat deelgeneem. Gerards het by die werksessie gesê die konsep van Uitkampteater is begin om kragte saam te snoer om nuwe toneelwerk te skep wat mense sal inspireer.

Vier Nederlandse akteurs en kunstenaars tree by Uitkampteater op. Twee komediante, Oscar Kocken en Patrick Nederkoorn, bied Wild Guest aan, wat die idee van individualiteit vasvang deur onderhoude met gehoorlede te voer. “Ons maak nie asof ons belangstel nie, ons vind iets waarin ons belangstel,” het Kocken gesê.

Jacqueline Hamelink en Miesjel van Gerwen bied Ivoortoring aan en hulle vra die gehoor uit oor konsepte soos “vreugde” en Van Gerwen teken dan ʼn prent wat die konsep uitbeeld, terwyl Hamelink tjello-stukke speel wat die konsep en Van Gerwen se skilderkuns komplimenteer.

Feesgangers kan ook van Suid-Afrika se jong akteurs by die projek sien. Aspekte soos rugby en die bendelewe word in van die ander produksies aangepak. Die produksies is Affie Kleinplaas, Klara Maas se Hart is Gebreek, Knie-Diep, Stof Rooi, Strafskop, Vlieg, Valencia en Wees Gewaarsku.

Snyman het gesê alle feesgangers moet die innoverende teater by vanjaar se KKNK bywoon. “Uitkampteater is ʼn baie intieme opvoering en ondervinding. Dis ʼn viering van kuns en ʼn intieme teaterervaring deur kunstenaars wat jou gaan oorreed om van hulle werk te hou.”

Uitkampteater vind plaas in tente voor die Absa Burgersentrum. Dit R20 om elke produksie by te woon, wat daagliks tussen 15:00 en 21:00 plaasvind. Dit word moontlik gemaak deur die Koninklike Nederlandse Ambassade se projek #CoCreateSA en die NLC. Kaartjies is by die produksiespanne te koop.

Kyk na die volledige program vir die KKNK op hul webwerf. Die fees duur tot 30 Maart.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.