Foto’s: Wat ’n ervaring by Huisgenoot-Skouspel!

Laurika Rauch lei die koor van kunstenaars in die finale liedjie by Skouspel 2012

Die 13de aanbieding van Huisgenoot-Skouspel is verby en dit het opnuut die invloed en diversiteit van Afrikaans en Afrikaanse musiek bevestig en gevier. Amper 35 000 mense het die ses vertonings oor twee naweke in Sun City bygewoon, en met die meeste kunstenaars nóg op die verhoog en ’n paar nuwe elemente was dit ’n vertoning waarop Huisgenoot trots is.

“Dit was ’n groot uitdaging,” sê Izelle Venter, hoofredakteur van Huisgenoot. “Om die groot produksie te bestuur, die balans te vind tussen oud en nuut en tegelyk te sorg vir vrolike en hoendervleis-oomblikke het absolute spanwerk geverg. Ons is dankbaar vir elkeen se aandeel. Ons wou die kunstenaars ’n uitsonderlike platform gee en ons lesers vermaak tot hulle net lekkerkry. Ek kon op die gehoor se gesigte sien ons het dit reggekry.”

Vanjaar se Huisgenoot-Skouspel is aangebied rondom die tema van nostalgie. Die legendariese nuusleser Riaan Cruywagen en die gewilde aktrise Lizz Meiring was seremoniemeesters. Meer as 60 treffers is gesing, en dit was ’n vermenging van oud en nuut – van Laurika Rauch se Stuur Groete vir Mannetjies Roux tot Die Heuwels Fantasties se Mangemaak het gehore gaande gehad.

Hoogtepunte was Elvis Blue se roerende weergawe van die Johannes Kerkorrel-liedjie Hillbrow, Joe Niemand se Ek Sal Nie Bang Wees Nie, Kurt Darren en sy orkes se Heidi asook Rocco de Villiers op die klavier. Nuwelinge, onder wie die groepe Adam, Hulle en VonWest, asook solo-kunstenaars soos Ricus Nel, Adam Tas, Willem Botha en Monique het gewys die talent strek wyd.

“Dit was ook ’n hoogtepunt om hulde te kon bring aan Christa Steyn,” sê Wicus Pretorius, adjunkredakteur van Huisgenoot. Christa is vereer met Huisgenoot se jaarlikse toekenning vir Lewenslange Bydrae tot Afrikaanse musiek. Haar seun, Douw Steyn, het die prys ontvang namens sy ma, wat vroeër vanjaar aan kanker oorlede is.

Een van die nuutjies op die verhoog was ’n buiging deur ’n groep 7de Laners. “Toe Hilda vir Matrone stilmaak en begin dans, het die gehoor geskater, om nie te praat van die pothou wat Flooze vir Gita gegee het nie,” sê Wicus.

Huisgenoot-Skouspel was daarby ’n fees vir die oog, met uitrustings deur Suzaan Heyns, Black Coffee, Love Jozi, C2, Yihan Brönn, Vesselina Pentcheva, Spero Villiotti, Royal Labels, MarethColleen, Loin Cloth & Ashes, Viyella en Stefania Morland. Lovisa het die juweliersware geborg en Converse het vir van die kunstenaars se skoene gesorg.

“Die sukses van vanjaar se Huisgenoot-Skouspel het gewys Afrikaanse mense is honger vir plaaslike produksies op ‘n internasionale standaard,” sê Charlene Beukes, hoofbestuurder van Huisgenoot. “Ons maak volgende jaar weer so: die datums vir Skouspel 2013, weer in Sun City, is 5, 6, 12 en 13 Oktober.”

[nggallery id=79]

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.