Francois en Elizabeth Fourie wals nog heerlik saam

Die Fouries op hul gelukkigste met kitaar in hand. (Foto: Verskaf)

Deur Elize Perrin

Op 16 Desember 2022 was dit reeds drie-en-veertig jaar nadat die troumars vir die bekende sangpaar gespeel is. Hulle liefdesdans het egter reeds drie jaar tevore as studente begin.

Die eerste note

As studente in Pretoria, het die twee mekaar in werklikheid op die verhoog ontmoet.

“Ons het elk die hoofrol in die operette Lilac Time/ Seringtyd gekry,” vertel Francois. “Ons was van die begin af goeie maats.”

Oor wat hulle na mekaar toe aangetrek het, noem Elizabeth dat sy Francois dadelik as ʼn vertroueling beskou het. “Ek kon al my liefdesprobleme uit ʼn vorige verhouding met hom bespreek,” vertel sy. “Uit die aard van die saak was sy raad aan my om die verhouding te verbreek.”

“Al het Elizabeth die lelikste houtplakkies gedra en sulke selfgemaakte rokkies, het ek steeds haar potensiaal raakgesien,” terg Francois.

ʼn Lewenslied

ʼn Huwelik in die vermaaklikheidsbedryf kan baie ekstra uitdagings hê, tog blyk dit asof die twee nog nootvas is. Wonder jy, soos baie ander, oor die resep vir ʼn lang, gelukkige huwelik, kom die Fouries se sin vir humor gou na vore.

“In die eerste plek moet jy lank genoeg leef,” sê Francois, “totdat almal vir julle oom en tannie sê.”

Op hulle troudag drie-en-veertig jaar gelede. (Foto: Verskaf)

“Maat-wees is ook belangrik”, meen Francois. “Vind iets wat julle saam kan doen. In ons geval is dit sport − die gholfstokke kry altyd ʼn plek as ons die langpad vat – kamp, die natuur en musiek.”

“Behou die romanse”, vul Elizabeth aan. “Die vonkel wat aan die begin daar was, is nog altyd daar. Bly net soek.”

Die egpaar geniet dit om vroegoggend oor ʼn koppie boeretroos te gesels oor die dag wat voorlê. “Dan is die fone nog stil,” sê Elizabeth. “Kommunikasie is tog so belangrik.”

Die Fouries stem saam dat dit tog ʼn voordeel is dat albei van hulle in die vermaaklikheidsbedryf is.

”Die een verstaan die ander se temperament en die kunstewêreld,” sê Elizabeth. “Dit gee ons ook die geleentheid om ʼn gesamentlike talent uit te leef; daar is altyd iets om oor te gesels.”

Dit is vir hulle wonderlik om saans in die bed die lekkerte van ʼn optrede te kan deel. “Die eerlikheid daarvan om ʼn liefdeslied te kan sing en dit te bedoel, is vir ons besonder spesiaal,” sê Elizabeth.

“Die singery was van die begin af net vir die lekker en is tot vandag toe ʼn ekstra bonus in ons lewe,” vertel Francois. “Ons het nie ʼn loopbaan in die musiekbedryf sien kom nie. Dit was beslis ʼn Hoër Hand.”

Lofliedere

Al was die musiekloopbaan dalk nie doelbewus beplan nie, is dit duidelik dat die gewilde sangpaar hulle steeds goed van hul taak kwyt. Na hulle eerste goue plaat: “Wil jy dans Carina?”, beweeg hul dans-dans van een kunstefees na die ander, kuier oorsee by Suid-Afrikaanse gehore en daag op waar hulle ook al na uitgenooi word.

Francois en Elizabeth is ook geen onbekende gesigte op televisie nie en het al verskeie toekennings ontvang van die SAUK, ATKV, Rapportryers en die Vroue Landbou-unie. ʼn Optrede in Nederland het op ʼn hoë noot geëindig toe die sangpaar ʼn toekenning ontvang het van die Nederlandse Vereniging vir die Bevordering van die Afrikaanse Taal.

“Toekennings is ʼn bonus en ons waardeer dit, maar die waardering, gasvryheid en ondersteuning van ons mense deur die loop van ʼn baie lang tyd, is die beste betaling,” sê Francois.

“Ons ry graag op uitnodiging na enige plek,” vertel Elizabeth. “Ons fokus baie op gesinsoptredes en het ook programme vir damesoggende, kinders en ouer mense. Die verskeidenheid is so lekker.”

Francois en Elizabeth agter die mikrofoon tydens ʼn Australiese toer. (Foto: Verskaf)

Elizabeth is ook geseën met die talent om te weet waar om die note op die notebalk staan te maak. Van haar liedjies is dan ook in die FAK-sangbundel opgeneem.

ʼn Vals noot

Dis geen nuus dat Covid-19 ʼn vals noot in kunstenaars se lewe was nie. Francois en Elizabeth kan ook daarvan getuig.

“Ons het gedink dat Covid die einde van ons sangloopaan gaan beteken,” erken Elizabeth. “Ons het die af-tyd gebruik om te rus, nuwe perspektief te kry en dit het ons geleer om die voorreg van ons musiekloopbaan opnuut te waardeer.”

Gelukkig vir die kunstenaars en hulle bewonderaars, is die teaterdeure weer oop en die verhoë afgestof.

“Die oorgawe waarmee besprekings weer gedoen is toe optredes weer moontlik geword het, is vir ons ʼn groot pluimpie. Ons sien nou dat ons nog steeds ʼn plek het en geroep is om ʼn positiewe boodskap deur musiek uit te dra,” vertel die Fouries.

Slotsang

Alhoewel Francois en Elizabeth reeds met die eretitel van oupa en ouma spog, sien hulle nog kans vir die langpad om hulle droom uit te leef.

“Wat is nou lekkerder as om saam te reis, opwindende nuwe mense en plekke te sien en vreugde te bring met ons konserte?,” vra Elizabeth. “Ons het wel ʼn doelwit om die meeste van elke dag te maak en ons tyd goed te bestuur, want die lewe is kort en gesondheid is kosbaar.”

“Mense word oordonder met negatiewe inligting op TV-programme, in koerante en die media,” sê Francois. “Ons sien dit dikwels in die moeë, moedelose uitdrukkings op die gesigte van mense in ʼn konsertsaal of kerk.”

“Ons verkies om hard daaraan te werk om die goeie dinge te soek en te geniet; om die fokus te verskuif na dit wat ons wel nog het en wat goed is. Daar is nog genoeg daarvan,” sê Elizabeth.

Dis duidelik dat die sangpaar nog nie gereed is vir die slotsang van hulle musiekloopbaan nie.

Elizabeth en Francois as studente in “Lilac Time”. (Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Koeksuster ·

Ek onthou hulle het ons skool besoek toe ek nog vroeg laerskool was. Ek het my Ma gesmeek vir hulle “tapes” – hulle het sulke oulike kinderstories opgeneem wat saam met musiek gaan.
Ek is seker ek onthou ‘n storie met die karakter Manie die noot.
Daardie kasette het my vir jare lank aan die slaap gemaak, en soveel nostalgie kom terug om weer daaraan te dink.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.