Francois en Elizabeth vier kwarteeu in musiekbedryf

francois-fourie-elizabeth-fourie

Francois en Elizabeth Fourie. Argieffoto.

Dit is nou al 25 jaar sedert Francois en Elizabeth Fourie die musiekbedryf oorrompel het met hul treffer “Wil jy dans, Carina?”

Dié snit is aanvanklik ingesluit op die album Seemeeu, maar nadat dit so gewild geword het, is die album heruitgereik met “Wil jy dans Carina” as titelsnit. Sedertdien het hulle hulself as een van ons land se voorste sangpare gevestig, en hul musiek is gewild onder mense van alle ouderdomme.

Ter viering van hierdie besondere mylpaal het hulle pas ʼn splinternuwe dubbel-CD, getiteld Hemeldans, uitgereik. Dit is ʼn kombinasie van kommersiële en Christelike musiek, tipies in die styl wat hulle so gewild gemaak het.

Die eerste snit  op die album is Elizabeth se komposisie “Ek hoop jy dans”. Hoewel dié liedjie ʼn aansteeklike ritme het en mense gou op die dansvloer sal kry, het dit volgens Elizabeth ʼn dieper betekenis, in die sin dat dit gaan oor die dinge wat die lewe die moeite werd maak.

ʼn Paar van hul gewilde treffers soos “Wil jy dans, Carina?” en “Ek hou van jou” is op spesiale versoek ingesluit, asook ʼn keurspel van ou treffers, “Song vir Cindy”, “Dolfyne” en “Drome van gister”. Die tweede CD bevat Christelike liedere soos “Prys die Lam”, “Oorwinningslied” en “Always and Forever”.

Elizabeth het die meeste snitte op hierdie dubbel-CD self geskryf en daarom het dit ʼn oorspronklike klank en inhoud wat iets van hul menswees uitbeeld. Volgens haar weet hulle presies wat die mense wil hê en glo sy en Francois dat Hemeldans aan dié behoeftes sal voldoen, naamlik kwaliteit-musiek wat die toets van die tyd kan deurstaan.

Francois en Elizabeth toer vandeesmaand na die Kaap en is van plan om die album in Sutherland onder die sterre bekend te stel.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.