Francois van Coke: ‘17 jaar het in ’n oogwink verby gevlieg’

Francois van Coke. (Foto: Jaco S. Venter)

Die inperkingsmaatreëls om Covid-19 te bekamp het die plaaslike musiekbedryf sedert Maart ʼn nekslag toegedien, maar die rocker Francois van Coke woeker en werk nog een stryk deur.

Nie net het hy pas ʼn splinternuwe album, Unplugged in Kaapstad (Live), uitgereik nie, maar beplan hy ook om vanjaar sy gesogte Francois van Coke en Vriende-konsert aanlyn aan te bied. Die rockgroep Fokofpolisiekar, waarvan hy die voorsanger is, reik ook binnekort ʼn nuwe kortspeelalbum uit.

“Met die inperking het alles vir ons as kunstenaars verander wat lewende optredes betref,” vertel Van Coke aan Maroela Media.

“Ek is gewoond daaraan om agt tot tien vertonings ʼn maand speel, en skielik was dit nul. Dit is uitdagend in terme van hoe jy ʼn inkomste genereer, maar dit is ook uitdagend aangesien ek al van 15-jarige ouderdom af op ʼn verhoog staan.”

Tydens vlak 3 van die nasionale inperkingstydperk het Van Coke ʼn aanlyn vertoning getiteld Stories agter die tunes vanuit sy ateljee, Van Coke Studios in Kaapstad, aangebied. Hy het agterna na die verwerkte opnames geluister en was dadelik mal oor die klank.

Akoestiese weergawes van bekende liedjies soos “Hemel op die platteland”, “Tot die son uitkom”, “Die wêreld is mal” en “Toe vind ek jou” is op dié album te hoor.

“Ek is ʼn groot aanhanger van Nirvana se unplugged album. Ek het gevoel hierdie is die naaste wat ek daaraan sou kom om só ʼn tipe album op te neem, al was dit dan nou regstreeks voor ʼn aanlyn gehoor en nie ʼn gehoor wat in lewende lywe daar is nie.”

Van Coke se derde Francois van Coke en Vriende-konsert is ook nie geheel en al in die wiele gery deur die Covid-19-pandemie nie en dié konsert gaan op 18 September aanlyn voort. Dié konsert het die afgelope twee jaar sowat 10 000 konsertgangers na die Sun Arena in Menlyn, Pretoria, gelok.

Danie Reënwolf van die groep Spoegwolf, Early B, Fokofpolisiekar, Die Heuwels Fantasties, Jack Parow, Tasché, Laudo Liebenberg, Tarryn Lamb, Van Pletzen, Matthew Mole en Jan Blohm is vanjaar saam met Van Coke op die verhoog te sien.

Die konsert word regstreeks vanuit ʼn ateljee aangebied, maar hy en sy span gaan steeds poog om ʼn lewendige atmosfeer en tasbare energie vir konsertgangers te skep soos met ʼn konsert in ʼn groot arena.

Francois se konsert gaan vanjaar aanlyn voort. (Foto: Facebook)

“Ons gaan sosiale media feeds en chats op die skerm hê waar mense met ons kan gesels en op mekaar se kommentare kan reageer. Daar gaan ook Zoom-kamers wees waar die mense met my kan gesels voor die vertoning en waar hulle ook met mekaar kan gesels tydens die konsert,” verduidelik hy.

“Dit maak ʼn groot verskil aan die gevoel van so ʼn aanlyn vertoning as mense kan sien daar is goed wat regstreeks gebeur en daar is interaksie.”

Hy is opgewonde oor die feit dat sy internasionale sowel as plaaslike aanhangers op klein dorpies in Suid-Afrika ook vanjaar dié konsert via die internet kan bywoon.

“Ons het agtergekom daar is soveel mense in ons land op klein dorpe wat nooit groot konserte kan bywoon nie. Dit is vir ons wonderlik dat hulle ook nou deel kan wees van iets wat hulle altyd misgeloop het.”

Die rocker vier ook op 18 September vanjaar sy 40ste verjaarsdag. “Ek kan eintlik nie glo ek word al 40 nie,” lag hy.

“Net nou die dag was ons [Fokofpolisiekar] die jongste Afrikaanse rockgroep op die toneel en nou is ons moontlik die oudste. Dit voel asof die afgelope 17 jaar in ʼn oogwink verby gevlieg het.”

Hy vertel hy gaan dié mylpaal vier deur vakansie te hou saam met sy familie na afloop van die konsert. Dit sal die laaste keer wees wat hy en sy vrou, Lauren, en hulle driejarige dogtertjie Alex ʼn gesin van drie is. In Oktober vanjaar word hulle ʼn seuntjie, Max, ryker.

“’n Bonus van die inperkingstyd is dat ek kans gekry het om baie meer tyd saam met Alex deur te bring as wat ek gewoonlik sou. Lauren is nou in die laaste fase van die swangerskap en sy is baie ongemaklik; so dit is goed dat ek hier is om haar by te staan. Met die vorige swangerskap het ek baie dinge gemis omdat ek op die pad was en dit is lekker om nou so betrokke te kan wees.”

Francois van Coke Unplugged in Kaapstad (Live) is op alle digitale platforms beskikbaar.

Kaartjies vir Francois van Coke en Vriende kos R200 en is hier beskikbaar. Die konsert vind op Vrydag 18 September om 20:00 plaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.