‘Francois van Coke en vriende’ kom Kaap toe

Francois van Coke. (Foto: Henry Engelbrecht/Verskaf)

Francois van Coke tydens verlede jaar se ‘Francois van Coke en vriende’-konsert. (Foto: Henry Engelbrecht/Verskaf)

Kaapse aanhangers van Francois van Coke sal bly wees om te hoor dié gewilde rocker se konsert, “Francois van Coke en vriende”, word in Mei vanjaar in Kaapstad aangebied.

Dié suksesvolle konsert, wat verlede jaar sowat 8 500 aanhangers na die Sun Arena Time Square gelok het, het Kapenaars genoop om daarop aan te dring dat hulle ook ʼn beurt wil hê om dié rock-skouspel te sien.

“Francois van Coke en vriende” sal op Vrydag 3 Mei by die Grand Arena, GrandWest, in Goodwood te sien wees.

“Ek het al die voorreg gehad om saam met die room van Suid-Afrikaanse musikante te werk,” vertel Van Coke luidens ʼn mediaverklaring.

“Die ‘Francois van Coke en vriende’-konsert in Pretoria verlede jaar was sonder enige twyfel die hoogtepunt van my loopbaan. Dit was dus noodsaaklik vir my om dit na Kaapstad ook te bring.”

Daar is net een verandering wat aan die program vir die Kaapse optrede aangebring is. Karen Zoid is nie beskikbaar nie en daarom het Van Coke sy nuwe vriendin en mede-beoordelaar by The Voice SA, Riana Nel, genader om te kom saam sing.

Francois se groep, Die Gevaar, is die orkes op die verhoog. (Foto: Henry Engelbrecht/Verskaf)

Francois se groep, Die Gevaar, is die orkes op die verhoog. (Foto: Henry Engelbrecht/Verskaf)

Jack Parow, Majozi, Fokofpolisiekar, Early B, Die Heuwels Fantasties, Arno Carstens, Laudo Liebenberg, Coenie de Villiers en Van Coke Kartel sal weer in dié aanbieding te sien wees.

Francois se groep, Die Gevaar, is die orkes op die verhoog.

Gautengers wat verlede jaar se optrede gemis het, kan ook later vanjaar weer die aanbieding sien. “Ons werk tans aan ʼn verandering of twee om hierdie konsert nog beter te maak! Hou hierdie spasie dop vir die bekendmaking van die datum,” het Van Coke bygevoeg.

Kaartjies vir “Francois van Coke en vriende” se Kaapse konsert op Vrydag 3 Mei kos R275 en is beskikbaar by Computicket.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Sandra Marais ·

Net gewonder of daar dalk gratis kaartjies beskikbaar gestel gaan word of dalk ‘n kompetisie om aan deel te neem en sodoende 2 kaartjies te kan wen.

J ·

Pretoria se show was AWESOME!! Sal beslis weer gaan, sal tot die dag wat ek sterf al die manne van FPK ondersteun in alles wat hul doen. Gaan juis vanaand n paar koues vat by jul bar manne! Gaan groot en doen die show so veel as moontlik!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.