‘Francois van Coke en vriende’ op een verhoog in Pretoria

Francois van Coke

Francois van Coke. (Foto: Verskaf)

Francois van Coke, ʼn kunstenaar wat nie met sy hande in sy sakke rondstaan nie, het Vrydag aangekondig dat hy eersdaags ʼn groot konsert saam met 17 van sy vriende in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf op een verhoog in Pretoria gaan aanbied.

Van Coke, wat reeds die laaste 15 jaar woeker met sy musikale talente, se rockskouspel sal op 15 September plaasvind in die Times Square Sun Arena in Pretoria.

Bekendes in die bedryf soos Jack Parow, Die Heuwels Fantasties, Laudo Liebenberg, Arno Carstens, Majozi en Early B sal almal saam met Van Coke op die verhoog te sien wees.

Die manne van Fokofpolisiekar, Van Coke Kartel en Die Gevaar sal ook ʼn draai op die verhoog maak. Van Coke het ook sy vriend, die gewilde Afrikaanse kunstenaar Coenie de Villiers, genooi om saam met hom te sing.

Van Coke vertel dat hy die ander kunstenaars vir die vertoning maklik gekies het. “Dit is die mense saam met wie ek oor die jare gewerk het en mense wat regtig my vriende is. Ek het verlede jaar met Coenie gewerk aan ʼn projek vir kykNET. Hulle het ons gevra om ‘Hillbrow’ van Johannes Kerkorrel saam te sing. Ek is ʼn groot aanhanger van Kerkorrel en Coenie het die liedjie destyds saam met hom gesing. Ons het vriende geraak en ons het die liedjie nou ook opgeneem vir Coenie se nuwe album.”

Francois van Coke

Francois van Coke. (Foto: Verskaf)

Hy sê hy glo hy is dit aan aanhangers verskuldig om dié massiewe produksie vir die eerste keer in Pretoria aan te bied. “Ons grootste aanhangersbasis is in Pretoria en Pretoria was baie goed vir ons deur die jare, so ek is bly ons kan dit daar doen. Dit is nogal ʼn logistieke nagmerrie om al die mense op een aand bymekaar te kry, maar ons sal dit beslis in Kaapstad en ander plekke ook wil aanbied.”

Van Coke verklap dat hy en vier van die kunstenaars wat tydens die vertoning te sien sal wees tans besig is om liedjies op te neem waaraan hulle saamgewerk het. Dié liedjies sal voor die vertoning reeds op iTunes beskikbaar wees.

“Mense kan ʼn paar lekker nuwe goed verwag, maar ons gaan ook die bekende goed speel en ons gaan baie van my gaste se goed saam speel. “Blue Eyes” deur Springbok Nude Girls is een van my gunstelinge, so ek sal dit graag saam met Arno wil sing. Ek en Early B doen ook vir die eerste keer iets saam, so daar is baie opwindende dinge waarna aanhangers kan uitsien.”

Hy skerts dat die konsert groter gaan wees as Francois van Coke by Aandklas. “Ons het AMP Events ingekry om ons te help, omdat hulle al internasionale kunstenaars soos Pixies en Live se uitverkoopte konserte gereël het, so hulle weet wat hulle doen. Dit gaan bydra tot die ervaring.”

(Foto: Henry Engelbrecht)

(Foto: Henry Engelbrecht)

Van Coke bieg dat hy steeds onseker voel oor homself as kunstenaar, al is sy talle Ghoema- en Sama-toekennings bewyse van ʼn massiewe aanhangersbasis. “Regtig. Ek voel onseker oor my vaardighede as liedjieskrywer, ek voel onseker of mense wil kom na my vertonings toe en of hulle gaan hou van wat ek doen. Ek kan voel ek het soveel fans, by tye, soos by ʼn fees of ʼn konsert, maar dit voel nie elke minuut van die dag so nie.

Ek is net in die ateljee saam met my vriende, besig om nuwe musiek te skep en soms wonder ek wat maak ek daar, jy weet. Dit dra miskien by tot wie ek is, want ek voel altyd ek wil beter doen as die vorige keer.”

Die oogmerk is om ʼn gehoor van 4 000 te lok met die eerste produksie van “Francois van Coke en vriende”. “Dit is die grootste ding waaraan my eie naam as solokunstenaar nog ooit gekoppel is, so ek hoop die mense sal kom kyk.”

Kaartjies is beskikbaar by Computicket.

Francois van Coke en Vriende 2018

Baie dankie aan almal wat my oor die laaste 15jaar ondersteun en baie dankie aan al my chommies wat saam met my songs skryf en speel. Julle almal maak dit vir my moontlik om musiek te maak en ek is baie dankbaar daarvoor. Dankie Dankie Dankie! Ek hoop regtig om almal van julle by die eerste #FVCenVriende te sien. Ons gaan julle die beste show nog ooit gee. Ek tel die dae af tot 15 September, want ek is SUPER AMPED!! Hoop julle is ook!Kry tickets nou: http://bit.ly/2I6asosJack Parow Early B Music Die Heuwels Fantasties Fokofpolisiekar Laudo Liebenberg Van Coke Kartel Majozi Arno Carstens Coenie de VilliersPresented by AMP events in samewerking met kykNET & Jacaranda FM Regional

Posted by Francois van Coke on Thursday, May 10, 2018

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.