Franja kort op Riaan, Jay se hakke op Top-20

Franja du Plessis.

Eloff se jongste enkelsnit getiteld “Geheueverlies”, wat verlede week die Maroela Media Afrikaanse Top-20 betree het, klim vandeesweek na die 12de plek. Sy treffersnit, “Johnnie Blou”, is in die derde posisie.

Franja du Plessis klim ook vandeesweek twee plekke met “Bring dit” en is dus nou kort op die hakke van Riaan Benadé en Jay se “Rowwe bliksem”, wat steeds in die no. 1-posisie bly.

Franja se musiekvideo vir “Bring dit” is sowat vyf maande gelede uitgereik en het reeds meer as ʼn miljoen kykbeurte op YouTube gehad.

In vandeesweek se Maroela Media Afrikaanse Top-20 is daar nege snitte wat styg, sewe wat daal en vier wat onveranderd bly.

  1. Riaan Benadé met Jay – “Rowwe bliksem”
  2. Franja du Plessis – “Bring dit”
  3. Eloff – “Johnnie blou”
  4. Irene-Louise van Wyk – “Tekkies brand”
  5. Riaan Benadé – “Spontaan”
  6. Ruhan du Toit – “Ter wille van ons kinders”
  7. Brendan Peyper – “Stop die wêreld ek wil afklim”
  8. Appel – “Dina”
  9. Riaan Benadé – “Vat ’n bietjie”
  10. Demi Lee Moore – “Wie se hart breek jy vanaand”
  11. Reën – “Vakansie op die platteland”
  12. Eloff – “Geheueverlies”
  13. Bernice West – “Dink aan jou”
  14. Demi Lee Moore – “Kan jou nie my maak liefhê”
  15. Bernice West – “Hemel op aarde”
  16. Wikus Botma  – “Brannewynlippe”
  17. Ricus Nel – “Ploeg jy”
  18. Franja du Plessis – “My lief”
  19. Demi Lee Moore & Riaan Benadé – “Kannie sonder jou nie”
  20. Jay & Irene-Louise van Wyk – “My volgende fout”

* Die Maroela Media Afrikaanse Top-20 word saamgestel deur enkelsnituitreikings en verskeie datafaktore word in ag geneem: Apple Music en Spotify-stromings, YouTube-kykbeurte (spesifiek week-tot-week-data) asook radiospeeltyd. Fisieke albumverkope het geen invloed op dié treffersparade nie.

Nuwe vrystellings

Germandt Geldenhuys. (Foto: Verskaf)

Dit is nooit te laat om te begin nie, meen akteur en sanger Germandt Geldenhuys. Hoewel Germandt al vroeg in sy lewe begin sing het, het sy akteursloopbaan eerste afgeskop.

Almal ken Germandt as die geliefde Louis Koster in die kykNET-sepie Binnelanders, ’n rol wat hy al die afgelope ses jaar vertolk. Dit was juis Binnelanders wat hom geïnspireer het om “In geval” te skryf.

Met ’n onlangse storielyn waar sy karakter ’n sangloopbaan wou begin, was die skrywer van die gewilde reeks op soek na ’n liedjieskrywer wat ’n oorspronklike liedjie kon skryf wat “Louis” dan in die storielyn kwansuis sou skryf en sing. Germandt bied toe aan om self te probeer en soos hulle sê, die res is geskiedenis.

Gian Groen het ook onlangs sy nuwe lied, “Lonely troebadoer”, bekendgestel. Hy het dié lied geskryf terwyl hy self Covid-19 gehad het. Weens die pandemie was dit ’n baie eensame plek om te wees vir ’n troebadoer, sê Gian.

“So sit mens in ’n klein klankdigte vertrekkie met net ’n kitaar en ’n kamera terwyl duisende mense die geleentheid kry om in te skakel. Dit is byna asof jy in ’n glaskas sit en musiek maak waar die wêreld dan inkyk, maar die kunstenaar sien niemand nie.”

Ander liedjies wat ook die week uitgereik is, is Mionette se “Panado vir die pyn”, Skelm se “Groot arm klein arm” en Janco Dreyer se “Ek sal dit onthou”.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.