Franja soek ʼn boerseun in vandeesweek se Top-20

Franja du Plessis. (Foto: Verskaf)

Franja du Plessis se treffer “Gee my ʼn boerseun” is vir ʼn tweede keer terug op die Maroela Media Afrikaanse Top-20.

Die donkerkop skoonheid se lied het die Top-20 betree toe dit net bekendgestel is, maar danksy die vrystelling van haar nuutste album en die lied se splinternuwe musiekvideo is dit terug op die treffersparade.

Hoewel Du Plessis sê dat sy nie “eintlik ʼn rompie-mens” is nie, pronk sy egter in ʼn Boerboel Wear-rompie in dié prettige musiekvideo waarin sy en ʼn paar boeremanne op ʼn plaas baljaar. Die video het reeds meer as 93 000 trefslae in slegs vier dae gehad.

Dié 28-jarige sangeres se splinternuwe album, Los jou hart, is verlede week bekendgestel.

Sy het vroeër aan Maroela Media vertel dat dit vir haar belangrik is om getrou aan haarself te bly en dat haar musiek iets vir mense moet beteken, of dit nou ʼn liedjie met dieper betekenis is of een is wat “iemand in ’n goeie bui sit”.

Verder bly die blondekopmanne van Droomsindroom vir eers op die Top-20-troon terwyl daar sewe snitte is wat styg, vyf wat daal en sewe wat onveranderd bly.

  1. Droomsindroom – “Hey Sonneblom”
  2. Riaan Benadé & Jay – “Rowwe Bliksem”
  3. Eloff – “Johnnie Blou”
  4. Brendan Peyper – “Meisies soos jy”
  5. Irene-Louise van Wyk – “Tekkies brand”
  6. Riaan Benadé – “Spontaan”
  7. Bernice West – “Jona”
  8. Snotkop – “Tsek!”
  9. Appel – “Dina”
  10. Elandré – “Hand aan hand”
  11. Bernice West & Ilan van Staden – “Soen my op my mond”
  12. Jo Black – “Staan vas”
  13. Dewald Wasserfall – “Bedoel”
  14. Rooksein – “Genade nader”
  15. Christia Visser – “Handgranaat”
  16. Ivan Roux – “Opsoek na liefde”
  17. Franja du Plessis – “My lief”
  18. Lianie May – “Bietjie Benoni”
  19. Franja du Plessis – “Gee my ’n boerseun”
  20. Demi Lee Moore – “Wie se hart breek jy vanaand”

* Die Maroela Media Afrikaanse Top-20 word saamgestel deur enkelsnituitreikings en verskeie datafaktore word in ag geneem: Apple Music en Spotify-stromings, YouTube-kykbeurte (spesifiek week-tot-week-data) asook radiospeeltyd. Fisieke albumverkope het geen invloed op dié treffersparade nie.

Nuwe uitreikings

Joshua na die Reën (Jacques de Villiers) het aanhangers onlangs met twee nuwe enkelsnitte, “Wandel” en “Vlieërs”, bederf.

Albei liedjies is op sy derde vollengte-album, Someraarde, wat in 2019 uitgereik is.

“ʼn Enkelsnit wat op die radio bekendgestel word, is baie keer nie van die liedjies op ʼn album wat die kunstenaar na aan die hart lê nie. Ek wou graag iets vir myself doen en daarom het ek my twee gunstelingliedjies op Someraarde gekies,” vertel hy in ’n onlangse onderhoud met Maroela Media.

“Wandel” gaan oor sy pad saam met sy vrou, Danél, en sy ander lied – wat saam met die sangeres Liani Reynolds neergepen is – handel óók oor die liefde en wil mense wat in ’n verhouding is, inspireer om mekaar, binne ’n verhouding, die spasie te gun om te droom en hulself te wees, sonder dat die konneksie verlore gaan.

Nog ’n liedjie wat pas bekendgestel is en ook handel oor die vrou in sy lewe, is Wouter van de Venter se lied, “My bok”. Wouter en sy vrou, Anita, het jare terug Pretoria vir die Weskus verruil.

Kirky van Kirkwood se “Wie sê ’n vrou kan nie boer nie”, Ruan Jordaan se “Veilig tuis”, Tasha se “Vergaan”, Ashton Wheeler se “Adrenalien”, David Johnson se “Kom dans saam met my”, Tino se “Sterrekind” en Jennifer Zamudio se “Jy het my vergeet” is ook onlangs bekendgestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.