Franna Benadé se splinternuwe seisoen

Franna Benadé. (Foto: Skoll Photography)

Ná agt albums en jare as aanbiddingsleier, sing op kampe en ook in kerke, het Franna Benadé ’n nuwe lied in sy hart én album op die rak. ʼn Splinternuwe seisoen op die randjie van sestig waarin God se goeie nuus gehoor móét word. ʼn Sjofargeskal ná sukkel én swaarkry.

Die wiele rol lank voordat die wekker my wakker sou skud. Gewapen met ’n oorgrensreispermit en selfdiagnose van chroniese Covid-19-kajuitkoors soek ek die snelweg na Modimolle vir myself, maar ook vir die plakboek in my kop.

Teen die tyd wat die son lui-lui sy kop bo die eerste tolhek lig, is ek weer elf. Laerskoollaaitie wat langspeelplate luister en luidkeels saam met die donkerkopduo, Innes en Franna verklaar: “Ek weet my lewe lê nog voor!” Ek vleg met uitgestrekte arms op my blou BMX deur gedagtegange tot ek besef ek het die grondpad buite die eertydse Nylstroom byster geraak.

“Ek sien skape en ’n lappie lusern,” sê ek skaam oor die selfoon. Franna beduie geduldig tot ek hom waaiend by die ingang na die plaas Donkerpoort sien wag. Behalwe ’n bietjie sneeu op dié lang man se berg, lyk hy met sy kenmerkende snor en innemende glimlag nie ’n oomblik ouer as die prente op my plate nie.

Hy spring sommer langs my in die bakkie in en swerf saam met my deur die sewe jaar waarin die singende Benadé-broers die bedryf met ’n barshou getref het: die Crescendo-wen in ’85, Debuut in ’87 … Tenoor-Franna se polisieorkesdae saam met Dozi en Blackie; bariton-polisiekapelaan Innes. “In harmonie”, “Mense soos jy”, “Sweef soos ’n arend”, “Songs for our Nation” op viniel verewig in die blomjare van Brigadiers en Decibel.

Feesmaal vir ’n vreemdeling

Terwyl ’n groepie bouers aan ʼn badkamer boor en breek, woeker vroulief Helena en laatlam Yelana in die plaaskombuis aan ’n brêkfis vir die boeke. “Ek maak gou die eiers, dan eet ons,” groet-sê Helena hartlik terwyl ek my aan Yelana se kuns teen die muur verkyk.

Daar’s koffie, vars plaaseiers, wors en roosterbrood. Nastergal, appelkooskonfyt, heuning. Feesmaal vir ’n vreemdeling. Ons vat hande en bid. Soos familie.

“Covid het mense weer om ’n tafel verenig,” skep-sê Franna. “Dit het beslis ons boom kom skud, soos ’n suiweringsproses, maar dis nie nét sleg nie. God is getrou. Hy laat werklik alles ten goede meewerk vir dié wat hom liefhet.”

“Soms sukkel ’n mens om die goed, die lesse raak te sien as jy in die oog van die storm staan,” voeg Helena by. “Dis soos die gedeelte wat sê: What the enemy intends for evil, God will use for good,” sê Yelana, beslis baie wyser as haar 17 winters.

Oor swaarkry en sukkel kan Franna vir seker ’n fris verhaal skryf. Met verlate verhoë en geslote gemeentes was hy midde-in die koronapandemie genoop om sy Fortuner te verkoop; ’n hektaar kool geplant om die wa deur die Donkerpoortdrif te trek.

Danksy ’n kode 14-lisensie kon hy saans boere se groente na die mark vervoer vir ’n ekstra geldjie en tans verkoop hy diesel wat hy in Pretoria gaan haal en aan boere in die distrik lewer.

Hierdie is nie sy eerste “Covid” nie. Hy’t in ’n stadium met ’n geleende bakkie mangate in Phuthaditjhaba in die Vrystaat gebou en was al selfs ’n wildwagter. Daar gaan egter nie ’n dag verby wat hy nie sy sjofar in blymoedigheid blaas oor God se voorsiening nie.

“Jy is die outeur van jou eie boek. In sak en as sit, help niks. Volgende keer as jy kom kuier, staan hier dalk vier hektaar bloedrooi rissies,” vertel Franna opgewonde.

“Baie mense dink aan God as vuur en vlamme. Verkondig hemel en hel. Vrees maak ons siek. Jou grootste apteek is in jou kop. Ons enigste opdrag is om mekaar met liefde te bedien, ondanks ons verskille. God se genade is ewe groot vir almal. En dis genoeg vir vandag.”

Franna Benadé het ’n nuwe lied in sy hart én album op die rak. (Foto: Skoll Photography)

Onbreekbare bande wat bind

Ná ontbyt vat ek en Franna elkeen ’n stoepstoel om in die oggendson tussen twee suurlemoenbome wat onder vragte geel vrugte kreun te gaan sit. Hy wys in die verte na die perdering waar Hugard (25), sy jongste seun, in Desember 2020 trou aan sy Marné beloof het. Die sementdansbaan wat hy gebou het, die enorme apiesdoring, flambojant en jakaranda wat ’n boomafdak vol liggies vir die bruilofsgaste gevorm het. Hiér wil hy nog baie konserte aanbied. Akoesties op die plaas.

Hugard werk vir ’n mielieboer in die deelstaat Louisiana in die VSA. Marné het ná die troue ook ’n werkspermit gekry en werk vir dieselfde boer. Boetie Franco (27) is met Wilmarize getroud en het ná hy onderwys in Potch geswot het, vir twee jaar in Modimolle skoolgehou.

“Hy’t nou sy eie wiskunde-en-wetenskapsentrum wat hy van die huis af bedryf. O ja, ek het oupa geword!” sê Franna trots oor Levi, Franco en Wilmarize se eersteling, wat in Junie vanjaar gebore is.

Ouboet Riaan (29) se debuutalbum, Spontaan, spog reeds met meer as 35 miljoen stromings. “En hy’t dit sélf vermag,” sê Franna. “Dit was vir my belangrik dat hy sy eie stempel afdruk; dat ek nie ’n skadu oor hom gooi nie. Riaan werk reeds vir jare vrek hard en tot onlangs het niemand geweet dat ‘die een met die snor’ sy pa is nie.”

Franna sluk swaar toe hy vertel van sy pa, Freek (86), wat in 2020 oorlede is. Freek en Ma Sue (86), ’n afgetrede Engelsonderwyseres en skoolkoordirigent, het verlede jaar hul 63ste huweliksherdenking gevier. “My pa was ’n merkwaardige man. My held. Hy was ’n kontrakteur wat vir homself gewerk en plaaspaaie herstel het.

“Sy hart was in boerdery. Al het hy voltyds gewerk, het hy naweke kom boer. Sy waatlemoen-oes was beter as die ouens s’n wat voltyds geboer het! As ek op die plaas stil raak en mooi luister, hoor ek die gedreun van sy Leyland wat vragte grond aflaai om vir ons familie te voorsien. My pa het my geleer om hard te werk.”

Franna het benewens die duet jare saam met Innes en sy tyd in die polisieorkes vir tien jaar met druiwe geboer, toe vir sewe jaar die lofprysing by ’n gemeente in Harrismith gelei en ’n rukkie op die dorp gebly. “Ná ’n dekade terug op die plaas, is dit asof ek en Helena nou eers werklik begin afsaal. Wortel skiet.

“Jong, as dit nie vir my vrou was nie, was ek só in my maai, só in my maai. Helena is net altyd daar,” sê Franna oor dié nooi Hugo, sy steunpilaar van die afgelope 32 jaar. “Sy’t ’n ongelooflike verhouding met die Here en bring ’n wysheid, vrede en kalmte (wat ek nie noodwendig het nie) wat ons gesin geestelik voed. Al vier ons kinders is deur haar tuisskoolhande.”

Om die pot aan die kook te help hou, bestee Helena ure op die foon en rekenaar om afsprake vir finansiële konsultante te reël. Soms tot 29 oproepe wat net een afspraak oplewer. “Ek het net nou die dag vir haar gevra of sy dink dié kool is sy sous werd. ‘Ek kon dié maand skoolgeld betaal én my eie mooimaakgoedjies koop,’ was haar antwoord.

“Sy’s wraggies ’n ystervrou! Daar lê krag in haar stilte, haar tyd saam met God.”

Getuienis van genade en guns

Net so kinderlik opgewonde as wat Franna oor sy nuwe album is, net so beskeie is hy oor sy sukses. (Foto: Franna Benadé)

Net so kinderlik opgewonde as wat Franna oor sy nuwe album is, net so beskeie is hy oor die sukses van dié gospelalbum wat sy skoene stewig tussen sekulêre musiek vol staan. In sy vrystellingsweek was Riaan en Franna se albums onderskeidelik tweede en derde op Apple se Afrikaanse stroomranglys!

“Die album is ’n getuienis van God se genade en guns. En Sy tydsberekening.”

As dit nie vir dié album was nie, was Franna nou op ’n John Deere in die VSA. “Ek wou om den brode ook daar gaan boer, maar die Here het elke moontlike deur toegemaak. Daarom weet ek die waarheid in die woorde op die album is bestem om nou, hiér, gesaai te word.”

Net soos ek is is geïnspireer deur die musiek van Alan Jackson en is die breinkind van musiekmarkmeester Arnold Coleske. Bekende saamsingliedjies soos “Wat ’n vriend”, “Blye versekering”, “Hoe groot is U” en “Ewig Jesus” (waarop Yelana se besonderse stem ook gehoor kan word) spog met splinternuwe woorde.

“Van ons geestelike musiek het sulke somber woorde. Die lirieke van ‘Wat ’n vriend’ was eers ‘Hy wat in my plek wil staan’. Nee! Hy wíl nie, hy hét. Dis volbring! Daarom sing ek: ‘Hy hét in my plek gestaan’.

“Deur Sy kruisdood kan ons ’n lewe in oorvloed hê. Die oomblik toe die voorhangsel geskeur het, is die weg gebaan om ’n persoonlike verhouding met Hom te hê. Dis ’n vrymakende waarheid wat my verstand te bowe gaan en enige vrees vir môre verdryf.

“My gebed vir die album is dat dit mense vry sal maak. Vry van die boeie wat hulle vashou om in volheid, ín verhouding, mét verantwoordelikheid te lewe.

“Die Woord in my hart gee my hoop in elke dag, want ek weet ons is nie hier vir ewig nie. Ons is net reisigers hier deur. Hy juig en jubel en dans oor my en jou, soos in Sefanja 3:17! Ons hoef niks te doen of te bewys nie. Ons kan Hom nie impress nie. Ons moet net wéés.”

Dis uitvaltyd en die bouers kom groet. Al het hy min olie in sy eie kruik, deel Franna steeds vrygewig. Pluk vir elke bouer ’n sak suurlemoene. “Ons sal nooit alles weet nie,” sê hy toe ons groet. “Tog weet Hy wat ons nodig het, en is Hy lief vir ons – net soos ons is.”

  • Hierdie artikel is met die vergunning van Flink geplaas. Flink is die FAK se maandelikse aanlyn tydskrif. Dit spog deesdae nie net met nuus van dié kultuurorganisasie nie, maar ook van die Voortrekkermonument en Die Erfenisstigting. Dis nou buiten al die ander lekkerleesstories, boekresensies, resepte en CD-resensie. Klik hier om die Augustus-uitgawe van Flink te lees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
ESTELLE

Pragtige storie, alle seen vir jou, Franna!