Franse musiekduo se paaie skei ná 28 jaar

Guy-Manuel de Homem-Christo (links) and Thomas Bangalter van Daft Punk op die Grammy-toekenningsgeleentheid in Los Angeles, Kalifornië in 2014. (Foto: Jason Merritt/Getty Images North America/AFP)

Die Franse elektroniese musieksterre Daft Punk se publisiteitsbeampte het Maandag bevestig dat die duo se paaie ná 28 jaar gaan skei.

Kathryn Frazier, die duo se publisiteitsbeampte, het die nuus via e-pos aan AFP bevestig. Frazier het nie verdere besonderhede verskaf nie.

Die duo het ʼn video getiteld “Epilogue” uitgereik waarin een van hulle opgeblaas word in ʼn woestyn, gevolg deur ʼn skerm wat lees “1993-2021”.

Daft Punk, wie se regte name Thomas Bangalter (46) en Guy-Manuel de Homem-Christo (47) is, het in 1997 wêreldwye bekendheid verwerf met hulle debuutalbum Homework en het vinnig ʼn ikoniese voorkoms met hulle robothelms gevestig.

Hul vroeë enkelsnitte soos “Around the World” en “Da Funk” het in al wat ʼn nagklub is weerklink. In 2001 het hulle ‘nog meer sukses behaal met die album Discovery, wat treffers soos “One More Time” en “Harder, Better, Faster, Stronger” opgelewer het.

In 2013 het hulle enkelsnit “Get Lucky” saam met Pharrell Williams en Nile Rodgers hulle grootste treffer van alle tye geword. Miljoene kopieë van die liedjie is reg oor die wêreld verkoop en die liedjie het ook twee Grammy-musiektoekennings ingeoes.

Die duo het egter byna nooit hulle gesigte ontbloot nie. “Ons lei daaglikse lewens wat baie meer normaal is as die lewens van kunstenaars wat op dieselfde vlak van bekendheid is as ons, maar wat geheg is daaraan om fisiek herken te word,” het Bangalter in 2015 in ʼn BCC-dokumentêr gesê.

Ondanks eindelose gerugte van ʼn nuwe toer of album was Daft Punk vir etlike jare stil. Hulle laaste album, Random Access Memories, is in 2013 uitgereik en was ʼn fenomenale sukses wat met vier Grammys vereer is.

Hulle het in 2017 vir die laaste keer by die Grammy-toekenningsgeleentheid verskyn. Aanhangers het op Twitter bespiegel dat hulle saam met The Weeknd in die onlangse Super Bowl-halftydkonsert te sien sou wees, maar dit het nie gerealiseer nie.

Bangalter en Homem-Christo het mekaar op skool in Parys ontmoet en hulle het die rockgroep Darlin’ gestig. Hulle het later as ʼn elektroniese groep begin musiek maak en het hulle naam gekies nadat ʼn Britse musiekresensent die rockgroep afgemaak het as “daft punky trash”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.