Twintig jaar gelede het Fransien Scott die gemak van haar groendakhuis in Suid-Afrika verruil vir tasse, ʼn vliegtuigkaartjie en ʼn nuwe begin in die vreemde. Dit was haar eerste koninkryk van beton wat sy moes agterlaat.
Dis juis die naam van haar splinternuwe enkelsnit.
Die lied hou verband met die onafwendbare veranderings wat elke mens in ʼn stadium in hul lewe ervaar.
“Dit gaan oor die lewensveranderende seisoen waardeur jy gaan. Of dit nou ʼn nuwe dorp is, of iemand wat jy aan die dood moes afstaan. Dis die aanpassing by ʼn lewe wat jy eens nie geken het nie.”
Die veranderings loop vir Scott hand aan hand met menswees, en dis juis die soort temas wat ʼn nuwe lied in haar aanwakker.
“Die oomblik wat jy terugkyk, is die oomblik wat jy nes Lot se vrou in ʼn soutpilaar verander. Dis dít wat jou terughou.”
Volgens Scott is die lewe wat elke mens aanmekaartimmer ook die koninkryk wat hulle vir hulself skep.
“Die koninkryk wat jy vir jouself gebou het, is aards, dis fisiek. Daarom noem ek dit beton. Dis egter ook iets waaraan jy swaar moet sleep, wat verhoed dat jy vorentoe in die lewe kan beweeg.”
Scott se stukkie beton moes al ʼn paar keer van vorm verander.
“Verandering is vir sommige mense maklik, maar nie vir my nie. Ek is maar ʼn ou huishen.”
Fransien en haar man, Ruan, is ook die ouers van ʼn tienerseun en -dogter wat vyf tale praat, waarvan Afrikaans een is.
“Ek is trots om te sê dat hulle Afrikaans en ons kultuur so goed ken. Ons het ʼn reël in ons huis dat Afrikaans om die etenstafel gepraat moet word. Hulle kry hier en daar nog ʼn woordjie of twee verkeerd, maar ek is eintlik baie trots op hulle.”
Die gesin het tien jaar lank in Engeland gebly. Hulle het Spanje en Switserland ook al huis genoem. Hulle is vir die afgelope paar maande in Portugal woonagtig.
Scott het soms gesukkel om die woeste waters van hul bestaan in die verte te trotseer. Sy vertel dat sy omtrent vir die eerste vyf jaar ʼn tweede Suid-Afrika gesoek het, iets wat sy nooit werklik kon kry nie.
Deur musiek het Scott wel weer haar plekkie in die spreekwoordelike Suid-Afrikaanse son gevind.
Oor KeeperSoul
Nie net bekoor die sprankelende Scott mense met haar musiek nie, sy het ook ʼn ander roeping wat sy met toewyding nastreef.
KeeperSoul, vernoem na haar ma se gunstelingboom, die kiepersol, bied ʼn wegbreekkans vir vroue wat hul verbintenis met geloof en die lewe verloor het.
“Die kiepersol sal altyd die hoogste boom wees. Sy kroon smag na sonlig, en maak nie saak watter bome om hom groei nie, hy sal groei totdat sy kroon die son voel.”
In die middel van ʼn lemoenboord in Portugal kom vroue van oor die wêreld twee keer ʼn jaar bymekaar vir vernuwing, bemagtiging, nuwe vriende en ʼn bietjie bederf.
- Vir meer inligting oor KeeperSoul, besoek hierdie webwerf.
Luister Scott se splinternuwe liedjie, “Koninkryk van beton”, hier: