Fredi Nest sing John Denver

Fredi-Nest-sing-John-Denver

Fredi Nest sing John Denver. Foto: Verskaf.

Op 3 Julie vanjaar het Suid-Afrika een van die mees talentvolle kunstenaars op die plaaslike musiektoneel verloor toe Fredi Nest aan kanker oorlede is.

Op dieselfde dag is Fredi se laaste album uitgereik, en ironies genoeg was dit ʼn huldeblyk aan ʼn bekende internasionale kunstenaar. Henry John Deutschendorf was beter bekend as John Denver. Hy is in 1997 in ʼn vliegongeluk oorlede, en tussen 1974 en 1982 het hy drie solo-treffers in Suid-Afrika gehad, asook ʼn duet saam met die tenoor Placido Domingo.

Die eerste snit op die album is John Denver se eerste groot treffer, “Annie’s song”, wat hy destyds vir sy vrou geskryf het. Daar is geen twyfel dat Fredi se weergawe baie goed met die oorspronklike een vergelyk; dit laat ʼn mens uitsien na die res van die album. “Back home again” was nog een van John Denver se groot treffers in Suid-Afrika, en weer eens klink Fredi se weergawe baie goed.

“Calypso” was een van John Denver se mooiste komposisies, maar dalk nie heeltemal so bekend nie. Daarom is dit goed dat Fredi dit ingesluit het. Fredi het ook geen probleem gehad om die hoë note te sing nie; hy het geweet hoe om sy stem te beheer.

“Leaving on a jet plane” was seker die eerste van John Denver se komposisies wat ʼn treffer geword het, hoewel dit Peter, Paul and Mary was wat die Suid-Afrikaanse Top-20 met hul weergawe gehaal het. “Some days are diamonds” was seker een van John Denver se laaste treffers, en weer eens is dit goed dat Fredi dit ingesluit het omdat dit nie meer vandag so gereeld gehoor word nie.

“Fly away” is nog een van John Denver se heel mooiste komposisies, wat dalk ook nie so bekend is nie. Een van die lekkerste snitte op die album is “Grandma’s feather bed”, wat buitendien nog altyd een van my gunstelinge van John Denver was.

“Take me home country roads” het ʼn partytjie-liedjie geword nadat Hermes House Band dit opgeneem het, maar dankie tog, Fredi het besluit om getrou te bly aan die oorspronklike musiekverwerking. “Sweet surrender” is nog een van die hoogtepunte van die album. Hoewel dit nie oorspronklik op Springbok Radio se Top-20 was nie, was dit nogtans een van John Denver se bekendste treffers. Nog ʼn snit wat in dieselfde kategorie val, is “Rocky mountain high”.

Dit is egter nie net John Denver se bekende treffers wat hier ingesluit is nie. “My sweet lady” en “A song for all lovers” is dalk nie so bekend nie, en dalk sal net John Denver se toegewyde aanhangers dit onthou. Daarom is dit goed dat Fredi hierdie twee snitte ingesluit het.

“Sunshine on my shoulders” is nog een van John Denver se mooiste komposisies, en weer eens het Fredi ʼn goeie weergawe daarvan opgeneem. “I’m sorry” was John Denver se grootste treffer in Suid-Afrika; dit het teen die einde van 1975 die agtste plek op Springbok Radio se Top-20 gehaal en dit is nog net so mooi soos altyd. Die laaste snit op die album is die pragtige “You say the battle is over”; een van die hoogtepunte op die album.

Terwyl ʼn mens na die album luister, kom jy twee dinge agter: John Denver se musiek is tydloos en Fredi Nest het tot aan die einde van sy lewe sy bes gelewer. Miskien het sy gesondheid agteruitgegaan nadat hy die album opgeneem het; ʼn mens weet dit nie vir seker nie, maar nooit sou ʼn mens enigiets anders as absolute professionaliteit en musikale uitnemendheid van hom verwag het nie. Daarom was Fredi se afsterwe ʼn enorme verlies vir die plaaslike musiekbedryf en is hierdie album ʼn gepaste herinnering aan waartoe hy in staat was. ʼn Mens sou natuurlik wou sien dat ʼn kunstenaar se laaste album oorspronklike komposisies bevat, maar dit was ongelukkig nie moontlik nie en bly ʼn groot jammerte.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.