Frieda van den Heever laat Afrikaanse debuutalbum lig sien

Frieda van den Heever. (Foto: Mia Truter)

“Die lewe moes spore laat voor ek kon snitte maak, liedjies opneem, en my instink vertrou. Die spore loop deur landskappe van verlies, verlange, vrae, ekstase, hoop, liefde en die lewe en veral lewe na die dood.

“Ek moes leef voordat ek daaroor kon sing.”

Só sê Frieda van den Heever, die stemkunstenaar, radio-omroeper en regisseur, oor haar Afrikaanse debuutalbum getiteld Spoorsny, wat pas uitgereik is.

Die liedjies op die album is oor jare geskryf en is oorspronklik geskep vir Skoonveld, ʼn produksie wat in 2022 by die Woordfees op Stellenbosch gehore gaande gehad het en die Woordtrofee vir beste kontemporêre solo-musiekproduksie ingeoes het.

Frieda het besluit om haar bydrae tot die Afrikaanse musiekskatkis te laat opneem by die Sunset Recording-ateljee in Kaapstad.

Jürgen von Wechmar het die album vervaardig en Frieda het saam met Fred den Hartog en Johnny de Ridder geskaaf aan die liedjies. Van die land se voorste sessiemusikante kan ook op die album gehoor word.

Die eerste enkelsnit op Spoorsny is getiteld “Bon Voyage” en is die laaste liedjie wat Frieda geskryf het voordat die album opgeneem is.

Die Heuwels Fantasties het saam met haar aan die liedjie gewerk en Pierre Greeff, voorsanger van dié groep, se stem word ook in die snit gehoor. ʼn Splinternuwe musiekvideo vir die liedjie is ook pas uitgereik.

Die omslag van Frieda se album, “Spoorsny”.

“Die liedjie druk iets uit van die kortstondige, soms broodnodige, troos wat lê in ontsnapping van die harde realiteit. Van die stryd wat ons voer teen die flatline, die wil om oorlewing, om nie koud gevind te word terwyl jou hart nog klop en jou brein nog golwe maak nie,” verduidelik Frieda.

“Dis ook ʼn klein ode aan Underworld se ‘Born Slippy’ (1996), en eintlik die fliek Trainspotting in sy geheel, waarin ek hierdie liedjie die eerste keer gehoor het en wat onuitwisbare merke op my jong gemoed gelaat het.”

Ander hoogtepunte op die album sluit in “Slot wat aanhou”, ʼn duet met Laudo Liebenberg, “Huis toe”, ʼn gunsteling onder gehore wat Skoonveld gesien het, “Asem”, wat dikwels op RSG gehoor kan word, en “Branders ken strande”, wat Frieda geskryf het op die eerste Kersdag ná haar man, Leon Kruger, se dood in 2021.

“Soos ʼn gebed” is die enigste lied wat nie uit Frieda se eie pen kom nie en is ʼn toonsetting van ʼn gedig deur Hilda Smits, ʼn Ingrid Jonker-pryswenner van 2017.

“Hierdie album roep diep herinneringe op van wat dit beteken om ten volle mens te wees – in hierdie land en in hierdie taal – maar ook oral. Spoorsny probeer die onvermoë van menswees vertolk deur woorde te gee vir die gans onbeskryflike, ʼn onbegonne taak,” sê Frieda.

Spoorsny is op alle groot digitale platforms beskikbaar.

Kyk hier na die musiekvideo vir “Bon Voyage”:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.