Gaan hulle die Ghoemas wen?

Die Ghoema Afrikaanse-musiektoekennings vind vanjaar op 24 Maart by die Pretoria Staatsteater plaas. Foto: Facebook

Die Ghoema Afrikaanse-musiektoekennings vind vanjaar op 24 Maart by die Pretoria Staatsteater plaas. Foto: Facebook

Oor byna drie weke is dit weer tyd vir die jaarlikse Ghoema-toekennings: die grootste geleentheid van sy soort in Afrikaanse musiek.

Hoewel ek nie veel waarde heg aan toekennings nie, of dit nou die Oscars, Grammys of Motor van die Jaar is, is dit miskien tyd om te kyk na watter Afrikaanse kunstenaars en albums verdien om met die toekennings in hul onderskeie kategorieë weg te stap.

Die probleem met toekennings is dat ʼn mens nie altyd weet wie die beoordelaars is en wat hulle bevoeg maak om die wenners aan te wys nie.

Ek gaan nie op al die kategorieë konsentreer nie, maar net op die belangrikstes en dié waaraan ek die meeste blootgestel is. Nie alle musiekresensente kry noodwendig elke nuwe album wat deur die jaar uitgereik word, in die hande nie, en ek kan net kommentaar lewer op die albums waarvan ek resensiekopieë ontvang het of waarna ek ten minste kon luister.

Album van die jaar: Die regte tyd – Riana Nel
Hoewel dit ʼn tweestryd tussen hierdie album en Laurika Rauch se Wals wals Willemien was, kry Riana Nel my stem omdat hierdie album reeds drie treffers opgelewer het en daar geen twyfel oor Riana se talent as sangeres en liedjieskrywer kan bestaan nie. Laurika is nie minder talentvol nie; sy is inteendeel ʼn legende van Afrikaanse musiek, maar met hierdie album bewys Nel sonder twyfel dat sy verdien om so gewild te wees as wat sy die laaste tyd geword het.

Manskunstenaar: Bobby van Jaarsveld
Bobby van Jaarsveld is vanjaar tien jaar in die musiekbedryf, en elke album wat hy tot dusver uitgereik het, was beter as die vorige een. Weer eens is hy ʼn kunstenaar wat kommersieel suksesvol is, maar nooit oppervlakkig, eksplisiet of omstrede is nie.

Vrouekunstenaar: Riana Nel
Weer eens was dit ʼn stryd tussen Riana Nel en Laurika Rauch, met Riana wat net-net my stem kry.

Groep van die jaar: Eden
Ná vier jaar se stilte is Eden terug met ʼn nuwe album. Dit nadat die onderskeie lede, Jay, Johan en Paulo, hul eie suksesvolle solo-projekte van stapel gestuur het: Jay as sanger (alleen en saam met Lianie May), Johan as liedjieskrywer en Paulo as vervaardiger.

Liedjie van die jaar: My alles – Bobby van Jaarsveld
Met elke nuwe album kom Bobby van Jaarsveld vorendag met daardie een liedjie wat ʼn volstrekte wenner is. Eers was dit Spieëltjie, toe ʼn Vrou wil dit hoor en nou hierdie een. Daar is seker nie ʼn vrou wat nie wens dat die man in haar lewe die woorde van hierdie liedjie aan haar wil opdra nie.

Nuweling van die jaar: Jan Rhaap
Dit was een van die moeilikste kategorieë om te beoordeel, aangesien min nuwe kunstenaars regtig ʼn groot indruk gemaak het. Jan Rhaap weet hoe om ʼn storie te vertel, en die kunstenaars saam met wie hy op sy debuutalbum, Laaste kans, gewerk het, is onder die beste in die bedryf. Hy is weliswaar nie heeltemal so kommersieel suksesvol soos die meeste van die ander benoemdes nie, maar hy is sonder twyfel die beste.

Riana-Nel-met-die-langspeelplaat-van-die-Regte-Tyd

Riana Nel staan ‘n kans om met verskeie toekennings by die Ghoema-2015 musiektoekennings. Foto: Riana Nel se Facebookblad.

Pop-album deur ʼn manskunstenaar: Maak ʼn wens – Bobby van Jaarsveld
Soos ek reeds gesê het, is elke album wat Bobby van Jaarsveld tot dusver uitgereik het, beter as die vorige een. Naas My alles het die album nog twee treffers opgelewer, naamlik Een vir een en Butterflies (saam met Eden). Van Jaarsveld gaan nog lank op die trefferslyste bly, en daar sal sekerlik nog ʼn paar enkelsnitte van hierdie album volg.

Pop-album deur ʼn vrouekunstenaar: Die regte tyd – Riana Nel
Geen verdere kommentaar nodig nie. Daar was eenvoudig nie ʼn beter pop-album deur ʼn vrouekunstenaar die afgelope jaar nie. Nel verdien beslis hierdie toekenning

Kontemporêre album deur ʼn manskunstenaar: Ek en jy – Dewald Wasserfall
Dewald Wasserfall het groot sukses met sy eerste solo-album, Vergeet wat jy weet van liefde, behaal. Hy het dit opgevolg met nog ʼn baie goeie album, wat reeds die treffers Gebore om te lewe en So eensaam soos die son opgelewer het en dit lyk asof die titelsnit binnekort ook tot die meeste trefferslyste gaan toetree.

Kontemporêre album deur ʼn vrouekunstenaar: Wals wals Willemien – Laurika Rauch
Laurika Rauch se eerste album in vier jaar is werklik iets besonders, selfs al het dit nog net die treffers As ek eendag oud is en Murg en been opgelewer. Laurika is een van daardie kunstenaars wat deesdae min nuwe musiek uitreik, omdat sy self erken dat dit moeilik is om liedjies te kry wat by haar stem, en by haar as mens, pas. Wanneer sy egter wel ʼn nuwe album uitreik, is dit die moeite werd, en deurstaan dit die toets van die tyd. ʼn Mens sal sekerlik na hierdie album kan luister lank nadat jy moeg geword het vir die meer kommersiële uitreikings wat in dieselfde tyd uitgereik is.

Album deur ʼn groep: Nooit oud raak nie – Eden
Eden se eerste nuwe album in vier jaar is reeds gewild. Sedert die vorige album het hulle twee treffers opgeneem, Superhero en Somer van ons lewe, en veral eersgenoemde het ʼn groot treffer geword. Met hierdie album wyk Eden nie juis af van hul resep nie, maar dit beteken nie dat hulle hul musiek deur ʼn worsmasjien jaag nie. Die album het reeds die treffers Dirty dancing, Jy soen alles reg en Butterflies (saam met Bobby van Jaarsveld) opgelewer, en daar sal sekerlik nog ʼn paar volg.

Geestelike album: Manne wat glo – Manne wat Glo
Dit was seker een van die moeilikste kategorieë om te beoordeel omdat Manne wat Glo of Adam Barnard die toekenning kan wen. Manne wat Glo bestaan uit vier bekende en ervare kunstenaars: Jan de Wet (die pionier van moderne Afrikaanse Christelike musiek soos ons dit ken), Leon Ferreira, Willie Joubert en Dewald Gouws. Hierdie vier manne kan sing en die album bevat ʼn mengsel van nuwe komposisies en ou gunstelinge.

Humor-album: Popster – Wicus van der Merwe
Dit is een kategorie wat gewoonlik nie juis iets oplewer om oor opgewonde te raak nie, juis as gevolg van die gemiddelde Afrikaner se humorsin, waaroor ʼn mens nie kommentaar wil lewer nie. Na my mening behoort Wicus van der Merwe hierdie kategorie by verstek te wen. Kaptein Skuim het bekendheid verwerf vir die parodie-liedjies wat hy op Martin Bester se radioprogram op Jakaranda FM sing en Rooies se 40 treffers uit my eie pen is nie net ʼn versamelalbum nie; die titel is misleidend omdat hy nie al die snitte geskryf het soos hy op die CD-omslag beweer nie en daar is te veel liedjies oor die Weskus en alkoholmisbruik.

Instrumentale album: Countrykeys – Rocco de Villiers
Dit is moeilik om te glo dat Rocco de Villiersal 25 jaar lank in die musiekbedryf is. Hy het veral die afgelope paar jaar besonder gewild geword met sy albums Beautiful Beautiful Piano, More Beautiful Piano en Stunning. Met sy album Countrykeys het hy ʼn nuwe rigting in sy loopbaan ingeslaan en veral gekonsentreer op die musiek waarmee hy grootgeword het. Sy eie komposisie, Roccobilly, asook die Jim Muller-keurspel no. 1 het gewild geword. Intussen het hy The Beautiful Collection uitgereik – wat sterk aanbeveel word.

Musiekvideo: Roadtrip – Kaleidoskoop
As ʼn mens na die woorde van die liedjie luister, voel jy sommer lus om die lang pad te vat sonder om te weet waar jy gaan uitkom, en dit word goed in die musiekvideo verwoord. Die ou Volkswagen Kombi wat in die video te sien is, maak dit selfs nog meer besonders. Die video kan onderaan hierdie artikel gesien word.

Liedjieskrywer: Riana Nel
Weer eens verdien Nel die toekenning, want sy kom gewoonlik vorendag met liedjies wat iets om die lyf het. Hoewel sy kommersieel gewild is, raak sy nooit oppervlakkig nie, en sy maak ook nie dieselfde taalfoute as haar ouer suster, Nianell, nie. Dié wat my nie glo nie, kan gerus na Nianell se treffers Lief my en Nou begin ons weer van voor gaan luister.

Die Ghoemas word op 24 Maart in Pretoria toegeken. Ons sal maar moet wag en sien watter van hierdie kunstenaars en albums wel die toekennings in hul onderskeie kategorieë gaan wen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Anton Visser ·

Ek dink nie Daaintjie se kommintaar beteken enigsins iets nie want hy haat Steve dus sal hy nooit vir hom stem nie en sal hy nooit objektief kan wees nie! hoekom Maroela media enigsins die man betaal om sy verwronge beeld van Sa musiek te gebruik gaan my verstand te bowe! Daaintjie ek het niks teen jou as mens nie maar jou ware kleure het gewys toe jy gese het Steve moet van alle Feeste verban word! Jy het daar deur bewys jy steun die skrapping van Vryheid van spraak! Jou kommintaar dat die beoordelaars nie bevoeg mag wees nie bewys jou onbevoegdheid en hoop ek Maroela media kom tot hul sinne en gee jou die trekpas asap!

Thinus ·

Ek stem saam, Anton! wat maak Daantjie ewe skielik ‘n ‘expert’ van Afrikaanse musiek.Daar is talle kunstenaars wat Daantjie dood eenvoudig net ignoreer: Elvis Blue, Joshia na die Reen,Karlien ens.Dalk moet Maroela media in die toekoms eerder iemand gebruik met die nodige( korrekte) musiek kennis

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.