Geliefde pianis terug met lekkerluister-album

Die bekroonde en uiters begaafde pianis, Rocco de Villiers, is terug met ʼn splinternuwe popalbum, wat nie net die heel eerste keer met ʼn Afrikaanse titel spog nie, maar ook beloof om luisteraars se voete na die dansvloer te lok.

kortbroek, langkouse is die musikant se 14de instrumentale album en bou voort op die unieke klavierstyl, eiesoortige komposisies en verwerkings waarvoor hy bekendheid verwerf het.

Dié nuwe vrystelling spog met tien splinternuwe oorspronklike werke, uit sy eie pen, asook vier van sy gewildste treffers vanaf vorige albums, wat “Kla 2 Kla 3 Kla 4”, “Anna Aeroplane”, “Roccobilly” en “Escape from the Ordinary Life”, die temamusiek van RSG se weeklikse kunsprogram op Dinsdagaande, insluit. Die titelsnit van die album kan ook reeds op radiostasies landwyd gehoor word en ʼn musiekvideo word eersdaags bekendgestel.

Met titels soos “Goeie gevoel”, “Vanaand kan ek dans”, “Reën kan jy nie koop nie” en “Nooit te laat (om lief te hê)”, is dit duidelik dat dié nuwe album luisteraars op ʼn opwindende lewensreis gaan neem wat musiekliefhebbers vrolik sal laat voel, maar ook soms diep sal laat dink.

“Die album raak belangrike kwessies, soos die aanvaarding van die verlede, kultuur en taal, aan. Dit praat oor selfaanvaarding, ʼn groener planeet, menseregte en om altyd net jouself te wees,” verklap die klaviermeester meer oor sy jongste projek wat beskryf word as sy eerlikste en persoonlikste werk tot dusver.

De Villiers se werk is al bekroon met verskeie pryse, waaronder Sama-, Huisgenoot Tempo-, Ghoema-, Vonk- en Cape Theatre-toekennings, en sy geestelike album, Beautiful Beautiful Hymns, wat in 2015 uitgereik is, het ook goue verkoopstatus bereik.

Afgesien van verskeie verhoogproduksies spog die musikant ook met twee mengeldrankie-boeke, ʼn regstreekse DVD-opname en ʼn boek met klavierbladmusiek. Hy was ook betrokke by die klankbaan van die Amerikaanse fliek, Brewsie & Willie, en het die temamusiek vir nege televisiereekse geskryf.

De Villiers is die vervaardiger van twee televisiereekse en dokumentêre programme vir M-Net oor die geskiedenis van musiek en het sy lyf ook aanbieder gehou vir drie kykNET-programme, Kook en Klavier, Rocco en Klop die Klawers.

Vanaf 28 Junie is hy ook te sien op SABC 2 as gasaanbieder van die tweede reeks van die speletjiesprogram, Beter assie Bure.

Die eietydse, emosiebelaaide manier waarop hy elke snit benader, is besonders en sal aanklank vind by gehore van alle ouderdomme.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

My ou favourite ·

Hy bly my ou favourite, hy mag toor met ‘n klavier!!!!!

lee ·

Ek sal graag sy nuutste cd spoedig wil aanskaf – besit reeds al sy vorige’s en luister gereeld daarna.
Ek verstom my aan die man se talent – en kan hy vir jou tokkel op daai klavier !!!

Dankie vir awesome musiek Rocco.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.