Geniet grootste plaaslike musiekkonserte in jou sitkamer

INBLY-konserte is binnekort op Computicket beskikbaar. (Grafika: Verskaf.)

ʼn Splinternuwe video-stromingsdiens INBLY-konserte (STAY-IN Concerts) skop op Vrydag 17 April af met die stroming van Afrikaans is Groot 2019 en Classics is Groot (Lexus Classics) 2019.

So word van Suid-Afrika se gewildste musiekproduksies nou regstreeks tot in musiekliefhebbers se sitkamers gestroom, terwyl dit ook ʼn inkomste vir kunstenaars en musikante genereer wat sedert die Covid-19-pandemie se inperkingstyd swaar trek.

Die stromingsdiens is ʼn die geesteskind van Coleske Artists, die vervaardigers van dié gesogte musiekproduksies, en Computicket.

“Ons harte gaan uit na ons kunstenaars en musikante wat swaar getref word in dié moeilike tyd. Optredes is reeds voor die inperking gekanselleer nadat die verbod op sosiale byeenkomste van meer as 50 persone aangekondig is.

“Sommige van hulle verdien reeds die afgelope maand nie meer ʼn inkomste nie, en ons weet nie vir hoe lank die situasie nog gaan voortduur nie,” het Arnold Coleske, direkteur van Coleske Artists, gesê.

“Ons voel dit is noodsaaklik om uit te reik en dit is juis wat ons met die inisiatief wil doen sodat ons hopelik verligting kan bring. As ons in ons onmiddellike omgewing kan hand bysit, sal dit ons almal help om aan die ander kant van hierdie krisis uit te kom.”

Snotkop en Ricus Nel sing die gewilde “Boerepompie” by Afrikaans is Groot 2019. (Foto: Henry Engelbracht)

Die eerste twee aflewerings van die INBLY-konserte sal reeds hierdie Vrydag om 09:00 beskikbaar wees om te stroom. Kaartjies kos R49,99 en is slegs by Computicket beskikbaar.

Sodra ʼn kaartjie gekoop is, sal elke kaartjiehouer ‘n knopie getiteld “View Video” sien op hulle Computicket-profiel sien waarop hulle kan kliek om die konsert 72 uur lank in volle hoë definisie in sy/haar huis te stroom.

Alle winste uit die kaartjieverkope sal tussen die groep kunstenaars en musikante, wal deel van die onderskeie produksies is, verdeel word.

Volgens Coleske sal INBLY-konserte drie geleenthede bied om kunstenaars en musikante te help. Die eerste geleentheid is die opnames van alle vorige konserte wat gestroom kan word, tweedens sal kunstenaars die kans hê om konserte in hul huise aan te bied en ʼn derde geleentheid is dat die publiek ook nou die geleentheid het om donasies te maak om die musiekbedryf by te staan.

“Die platform sal ook beskikbaar gestel word aan die groter musiekbedryf of inhoudverskaffers om hulle deur die tydperk te help,” het hy bygevoeg.

Meer besonderhede oor die jongste INBLY-konserte sal op Afrikaans is Groot (AIG) se sosialemediaplatforms, die betrokke sangers se sosialemediaplatforms en dié van Computicket bekendgemaak word.

Nog aanlyn konserte om tuis te geniet:

Leon Gropp. (Argieffoto.)

Leon Gropp bied vanaand (Woensdag 15 April) om 20:00 ʼn regstreekse konsert aan wat musiekliefhebbers kan stroom.

“Daar is verskillende betaalopsies vir dié konsert. As die nood druk en jy wil regtig graag na die konsert kyk, maar jy het nie nou die geld nie (toemaar ek ken die gevoel), is jy welkom om vir my ʼn persoonlike boodskap te stuur. Ek sal met liefde vir jou ʼn koepon verskaf waarmee jy die vertoning gratis kan kyk,” het Gropp gesê.

Volgens hom sal jy vir minstens 14 dae toegang tot die konsert hê.

Kaartjies vir vanaand se konsert kan hier aangeskaf word.

Ross Leartmonth van Prime Cirlce. (Foto: Facebook.)

Die V&A Waterfront bied op Vrydag 17 April om 19:00 tot 20:30 ʼn Good Night Friday-konsert aan wat gratis en regstreeks op Facebook en YouTube uitgesaai word.

Marc Lottering is in dié konsert die seremoniemeester en Jimmy Nevis, Prime Circle se Ross Learmonth, Wandile Mbambeni en Acoustic Element verskaf die musiek vanuit hulle huise.

Alhoewel die konsert gratis is, word musiekliefhebbers versoek om ʼn donasie aan die Ladles of Love-welsynsorganisasie te maak. ʼn QR-kode sal tydens die uitsending van die konsert verskaf word, wat kykers die geleentheid sal bied om ʼn skenking te maak. Dié organisasie bestuur sopkombuise en wil poog om tydens die inperkingstyd meer as 2 000 etes per dag te verskaf aan haweloses in die Moederstad.

Volg dié vertoning op die V&A Waterfront se Facebook-blad of YouTube-kanaal.

Die Atterbury-teater in Pretoria se Optog! e-konserte is nog tot die einde van April beskikbaar. ʼn Reeks van drie konserte is twee dae voor die inperkingstyd opgeneem en die laaste een in die reeks is Sondagoggend beskikbaar gestel.

Nataniël, Amanda Strydom, Jak de Priester, Mathys Roets, Kevin Leo, Ricus Nel, Robbie Wessels, Corlea Botha, Ruhan du Toit, Joshua na die Reën, Anna Davel, Roan Ash en Dewald Wasserfall is maar net ʼn paar van die kunstenaars wat betrokke is by die e-konserte.

Besoek www.optog.co.za vir meer inligting. Kaartjies kos slegs R50.

Die Johannesburg Filharmonie (JPO) en die KwaZulu-Natal Filharmonie (KZNPO) op hul beurt ʼn musikale huldeblyk aan plaaslike gesondheidwerkers opgeneem. Die individuele orkeslede het saamgespan om ʼn virtuele uitvoering van die lied “Amazing Grace” saam te stel.

Die musikante het die video gemaak deur elkeen hul eie deelname aan dié uitvoering tuis op te neem.

“Ons hoop dat die huldeblyk troos en vreugde bring vir duisende Suid-Afrikaners wat isolasie, ekonomiese swaarkry en angs verduur tydens die Covid-19-pandemie,” het Bongani Tembi, hoofbestuurder en artistieke direkteur van die JPO en die KZNPO, gesê.

Kyk hier na die video:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Sarel ·

Vooorspoed vir due Kunstenaars en Organiseerders van al hierdie byeenkomste

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.