Gert Potgieter se musieknootgrafsteen herstel

Maresa Zietsman en Daleen Potgieter (voor) by hulle oom, Gert Potgieter, se herstelde grafsteen in die Wespark-begraafplaas in Johannesburg. Agter is: Marianda Schlebusch, FAK-projekbestuurder en koördineerder van FAK-Kultuurnetwerke, en Barry Müller, projekorganiseerder van FAK-Kultuurnetwerke in Gauteng. (Foto: Verskaf)

Vrydag, 44 jaar ná die afsterwe van die bekende Afrikaanse sanger Gert Potgieter, is ’n nuwe grafsteen vir hom danksy die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) in die Wespark-begraafplaas in Johannesburg onthul.

Potgieter is een van net ’n handjievol kunstenaars op die Suid-Afrikaanse musiektoneel wat ewe gemaklik met ligte as ernstige musiek was en sukses met albei behaal het.

Hy is op 2 Julie 1977 op die jong ouderdom van 47 jaar dood. Hy het by ’n troue in Ventersdorp gesing en hy en sy vrou sou later daardie week vertrek om hul 25ste huweliksherdenking te vier. Hy was egter by Tarlton naby Krugersdorp in ’n trompop botsing betrokke gewees en is op slag dood.

Sy grafsteen in die vorm van ’n musieknoot uit graniet met koperletters daarop is onlangs geskend en dié letters afgesteel. ’n Besorgde inwoner, Chrissie Naudé, wie se familielede in dieselfde begraafplaas as Potgieter begrawe is, het opgemerk dat sy grafsteen beskadig is en die FAK verwittig. Dié kultuurorganisasie het dit onlangs herstel.

Potgieter se broerskinders, Daleen Potgieter en Maresa Zietsman, het Vrydag saam met die FAK kranse by hulle oom se nuwe grafsteen gaan lê.

Daleen vertel: “Vir ons was Gert Potgieter ons geliefde oom Gert, die oom wat ons voor hom laat staan het en vir ons ge-serenade het met ‘Mooie meisies, fraaie bloemen’. Die oom wat spesiaal ’n towenaar gereël het om die kinders te vermaak, terwyl die grootmense na sy konserte kuier. Die oom wat ons leer swem het in sy swembad met die groot G-sleutel op die bodem van sy swembad. Ons het altyd die lyne van die sleutel probeer volg terwyl ons asems ophou. Die oom wat so lekker kon kosmaak en sommer terwyl hy staan en braai, losgetrek en ’n aria gesing het.

“Hy was ’n regte platjie en poetsbakker. Hy het ons ouers toegesing tydens hulle troue vanuit die galery in die kerk. Die gemeente kon hom nie sien nie, net die bruidspaar. Hy het tussen die singery wanneer net die orrel gespeel het vir hulle gestaan en gesigte trek.”

Sy sê Potgieter was baie goedhartig.

“Hy het soms vergeet dat hy betaal moes word totdat sy orrelis, Sied Vliedstra, ’n Hollander, vir hom gesê het: ‘Tot die geld nie in de sak, word geen bekke oopgemake nicht!’

“Tydens sy konserte het hy my ouma, Maja, wat altyd heel voor gesit het, in trane gehad wanneer hy spesiaal vir haar ‘Sweet Maria’ gesing het. Hy is van ons ontneem deur ’n dronk bestuurder en ons hoop deur die gebaar van die FAK kan mense weer daarvan bewus word dat dronkbestuur lewens verwoes.”

Marianda Schlebusch, FAK-projekbestuurder en koördineerder van FAK-Kultuurnetwerke, sê die FAK het die grafsteen herstel om Potgieter se kulturele nalatenskap te eer.

“Hy het ’n groot invloed op die Afrikaanse kultuur gehad en die skending van die musieknoot op sy grafsteen het dié grafsteen identiteitloos gelaat. Ná die herstelwerk is sy naam weer verewig.”

Meer oor Gert Potgieter

Gert Potgieter. (Foto: Verskaf)

Potgieter is op 14 November 1929 in Johannesburg gebore en het matriek aan die Hoërskool Helpmekaar behaal. Sy stem het as kind nooit gebreek nie en daarom het hy deurentyd as liriese tenoor bekendheid verwerf.

Hy het op hoërskool al die rol van Mordegai in Händl se kantate Esther, gegrond op die Bybelverhaal, vertolk en hy was so suksesvol dat hy die bynaam van Mordegai gekry het. Hoewel Potgieter opleiding as lettersetter gekry het, het hy aan eisteddfods deelgeneem en sanguitvoerings oor die radio gegee.

Potgieter het sy debuut as platekunstenaar gemaak toe hy as deel van die Boeresangers saam met onder andere Rudi Neitz, Leslie Philips, George Wolvaardt en André Brink gesing het. Hulle het net een langspeelplaat opgeneem en daarop het hulle volksliedjies soos “Pollenys”, “Al lê die berge nog so blou”, “Kinders moenie in die water mors nie”, “Die brug op ons plaas” en “Vaarwel my eie soetelief” opgeneem.

In 1959 neem hy sy eerste sololangspeler, ’n Lied uit die hart, op; dit bevat Afrikaanse liedjies asook liedere uit operettes. Die volgende jaar was hy die eerste wenner van die Mimi Coertse-beurs wat hom in staat gestel het om onder prof. Maria Hittroff aan die Weense Staatsakademie vir Musiek te studeer. Hy het ook twee jaar lank aan die Weense operaskool gestudeer.

Hoewel hy ’n aantreklike aanbod van die Weense Staatsopera gekry het, het hy in 1962 besluit om terug te keer na Suid-Afrika. Met die stigting van die verskillende streekskunsterade het hy rolle vertolk in operas soos Die huwelik van FigaroNabuccoDie Fledermaus en Madame Butterfly.

In 1967 het Potgieter ’n platekontrak van drie jaar onderteken en hom op ligte musiek begin toespits. Sy eerste ligte album was Serenade. In 1970 was hy vir die eerste keer op die groot skerm te sien toe hy saam met Gé Korsten, Min Shaw en die gewese mej. Suid-Afrika Mitsi Stander, wat op ’n jong ouderdom oorlede is, te sien was in die rolprent Lied in my hart.

In 1971 het sy treffer “Sweet Maria”, wat deur die Duitse orkesleier Bert Kaempfert geskryf is, tot Springbok Radio se Top-20 toegetree. Hy het die dertiende plek gehaal en agt weke lank op die trefferlys gebly.

In 1973 het Potgieter se vertolking van John Rowles se treffer “Cheryl Moana Marie” die eerste plek op die destydse Rhodesië se trefferlys gehaal, maar hy kon, ironies genoeg, nie dieselfde sukses in Suid-Afrika met daardie snit behaal nie. Potgieter het ook heelwat poptreffers van die 1970’s opgeneem, onder meer “Dreams are good friends” van Vicky Leandros, “You lay so easy on my mind” van Andy Williams, “Mandy” van Barry Manilow en “Canta Libre” van Neil Diamond.

Hoewel sy musiek miskien op ’n meer uitgelese gehoor gemik was, het hy met “Baba-boogie” ook bewys dat hy ’n sin vir humor gehad het.

Hy het saam met orkesleiers soos Hennie Bekker, Con Lamprecht en Johnny Boshoff gewerk en as hoofkunstenaar opgetree saam met bekendes soos Groep Twee, Jody Wayne, Alan Garrity, Leonore Veenemans, Nick Taylor en Gwyneth Ashley Robin, wat op die ouderdom van vyftien jaar in ’n vliegongeluk dood is. Hy het sy langspeelplaat I’m yours opgedra ter nagedagtenis aan hierdie jong sangeres, maar wie sou kon dink dat dit ook sy laaste langspeler sou wees?

Potgieter het ook later jare ’n radio-en-televisiepersoonlikheid geword. Hy was in 1976 te sien in een van die eerste Suid-Afrikaanse televisiereekse. Hy het die rol van oom Hans in Net ’n bietjie liefde vertolk; van die ander akteurs in die reeks was Dana Niehaus, Esmé Euvrard, Dulcie van den Bergh, Bettie Kemp, Julie Strijdom en Friedrich Stark.

In 2005 het Manuel Escorcio, wat baie dieselfde musiekagtergrond as Potgieter gehad het, ’n dubbele album vrygestel waarop hy hulde aan hom, asook aan Gé Korsten gebring het. Onder die treffers van Potgieter wat Escorcio ingesluit het, was “As long as the sun will shine”, “Sweet Maria”, “Nagtyd in die Bosveld”, “Cheryl Moana Marie”, “Baba-boogie” en “Die heidelied”.

Potgieter se grafsteen in die vorm van ’n musieknoot uit graniet met koperletters daarop is onlangs geskend en dié letters afgesteel. (Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Miskruier ·

Klou tog nie so vas aan die dooies nie, hou jou herinneringe.

Dries ·

Dit is ontstellend dat nie eers n grafsteen met rus gelaat word nie.

OW ·

Ek stem.Dit moet mense wees wat nie ‘n dag se opvoeding en respek vir niks het nie.

Pietertjie ·

Maar behoede die een wat slegs een klip van ‘n voorvader-graf aanraak…

koos10 ·

Of Brenda Fassi ge graf skend. Dit sal dadelik rassisme wees!

Belinda ·

Wonder wat sal gebeur as die geliewe madiba goed verniel word… maar ons is beter as dit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.