Gesinsfees beloof vet pret vir ieder en elk

Gesinsfees-Kosie-Beukes

Die sewejarige, Kosie Beukes, speel reeds 13 musiekinstrumente en gaan sy talente met besoekers aan die Gesinsfees op 16 en 17 Mei deel. Foto; Verskaf.

Trek jou dagboek nader en maak ʼn inskrywing by die naweek van 16 en 17 Mei 2015!

ʼn Gesinsfees – wat grootliks deur die burgerregte-organisasie AfriForum moontlik gemaak word – gaan oud en jonk vermaak met twee dae propvol vet pret, stalletjies en musiekvertonings ten bate van die Kankervereniging van Suid-Afrika (Kansa).

Die sewejarige Kosie Beukes, wat reeds 13 musiekinstrumente bemeester het, is ʼn groot trekpleister. Kosie het reeds as vyfjarige die konsertina begin tokkel, en gaan oud en jonk betower met sy musikale vingers en beslis vir hom ʼn plek in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf oopspeel.

Hy sal op die AfriForum-verhoog te sien wees, waar 16 bekende en ontluikende musikante vanaf 09:00 die skare sal vermaak. Die ander name sluit onder andere Jakkie Louw, Ricus Nel, Pieter Smith, Jak de Priester, Mathys Roets en Nedine Blom in.

Die akteurs van die langverwagte film, Treurgrond, wat op 29 Mei in teaters begin draai, is nog ’n bonus by die fees. Dié drama beeld die harde werklikheid en gevolge van plaasmoorde op slagoffers se geliefdes, plaaswerkers én die breër gemeenskap uit. Die room van die land se akteurs, wat Steve Hofmeyr, Erica Wessels, Jana Strydom en Shaleen Surtie-Richards insluit, vertel die storie met teerheid, geloofwaardigheid en impak.

Tussendeur die skouers skuur met bekendes en die klanke van goeie Afrikaanse musiek in die agtergrond, kan pa, ma, die jongspan én oupa en ouma hul moue en broekspype oprol vir ʼn goeie dosis boeresport. Lekker pryse is op die spel. Lekker lag is gewaarborg.

Gesinne, vriende of maatskappye kan ook inskryf vir die Harcourts-toutrekkompetisie. Afrigters van provinsiale spanne – wat ook gaan deelneem – sal aan amateur-troutrekkers ʼn paar fynere kunsies leer.

Selfs die kragmanne gaan spiere bult, en vra dat almal hulle sal kom aanmoedig by die uitdagings wat hulle aanpak.

Vir ma en sussie, wat dalk nie te veel tyd sal wil deurbring by spiere en toutrek nie, sal daar ʼn groot verskeidenheid kunsstalletjies wees met fraai goed om van te kies en te keur. Stalletjies met oorgenoeg eet- en drinkgoed vir elkeen se smaak sal die hongerpyne stil.

Die fees word by Supersportpark in Centurion, Pretoria aangebied. Besoek die Gesinsfees se webwerf vir nog inligting of om kaartjies te bespreek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.