Gesondheidkwessies kniehalter steeds Celine Dion-vertonings

Céline Dion in September 2018 in Quebec, Kanada. (Foto: Alice Chiche / AFP)

Die Kanadese sangeres Céline Dion het in ’n emosionele video op haar Instagram-profiel Vrydag aangekondig dat sy as gevolg van ’n knaende gesondheidskwessie haar komende Europese optredes gaan uitstel of selfs kanselleer.

“Hier is ons al weer. Ek is so jammer dat ons Europese toerplanne weer ʼn keer moet verander. Eers moes ons die vertonings skuif as gevolg van die pandemie, nou is dit my gesondheid wat veroorsaak dat ons van die vertonings moet skuif en ongelukkig van hulle moet kanselleer,” het Dion se video gelui.

Sy het haar aanhangers gerus gestel deur te verduidelik dat haar gesondheid aan die verbeter is, maar dat sy steeds hier en daar spasmas ervaar.

“Ek is besig om behandeling te kry en medikasie te neem. Ek ervaar egter steeds spasmas en dit neem baie langer om te herstel as wat ek gehoop het. Ek moet op my stukke wees wanneer ek op die verhoog is.”

Haar stem het begin bewe toe sy haar aanhangers om verskoning vra vir die feit dat sy die vertonings wéér moet uitstel.

“Ek probeer my bes om terug te kom op die vlak waarop ek moet wees, sodat ek 110% kan gee wanneer ek weer optree, want dit is wat julle verdien.”

Sy het ook van die geleentheid gebruik gemaak om haar aanhangers te bedank vir al die ondersteuningsboodskappe wat sy op sosiale media van hulle ontvang.

Die video is al meer as een miljoen keer gekyk en duisende aanhangers het na die kommentaarafdeling gestroom om Dion beterskap toe te wens.

Talle bekendes het ook kommentaar daarop gelewer, onder wie die Outlander-akteur Sam Heughan en die aktrise Priyanka Chopra.

Die vertonings is deel van Dion se “Courage”-wêreldtoer en sal tot 2023 uitgestel word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.