‘Getroud met Rugby’-akteur deel van nuwe sanggroep

EON Ligjare

Jerry Spangenberg. Altus Theart en Pieter Marcato.

Altus Theart, wat weeksaande op die kassie in sitkamers landwyd kuier as Faf Beltrami in die kykNET-sepie Getroud met rugby, hou sedert 2015 sy lyf sanger en is ook nou voorsanger vir die splinternuwe alternatiewe popgroep EON.

Dié groep het onlangs sy debuutalbum, Ligjare, bekendgestel. Die groep is in 2017 gestig en bestaan uit Altus (sang), Pieter Marcato (sang en kitaar) en Jerry Spangenberg (sang en kitaar). Pieter en Jerry is albei ook deel van die musiekgroep Marcato.

“Ons wil nie te veel in ʼn boks gedruk word nie,” sê Altus oor die rigting wat EON se musiek inslaan. “Ons doen net wat ons doen en waarvan ons hou.”

Pieter vertel Roux Cloete het die meeste liedjies op die album, wat 11 snitte bevat, geskryf. “Twee van die snitte is deur my en Jerry geskryf en ‘Bittersoet’, die eerste enkelsnit van die album, is deur Wickus Bothma geskryf.”

“Die mense is mal oor die liedjie,” vertel Altus oor “Bittersoet”. “Niemand sê ooit dieselfde twee liedjies op die album is sy of haar gunsteling nie, maar die meeste mense hou van ‘Bittersoet’.”

Volgens Altus is “Slaan hom uit die park uit” die liedjie wat luisteraars op die dansvloer gaan kry. “Meer as goud, meer as silwer” en “Ligjare” is Altus se ander gunstelinge op die album.

Die album is tydens ʼn groot geleentheid by die gewilde Pretoriase skoffelplek Weiveld bekendgestel. “Dit was ʼn baie stresvolle aand, maar jy maak jou hart oop vir die gehoor met die musiek wat jy geskep het en hoop maar net almal hou daarvan,” sê Altus.

“Ons het tydens die bekendstelling slegs liedjies van die album af gedoen, so die enigste liedjie wat die gehoor dalk al sou gehoor het, was ‘Bittersoet’. Ná so drie liedjies het die dansvloer al hoe voller geraak. Dit was ʼn groot partytjie en almal het dit baie geniet.”

Pieter en Altus vertel hulle is passievol oor EON. “Daarom máák ons maar tyd vir die musiek, al is dit soms moeilik tussen GMR-opnames en klein Alexander [Theart se seuntjie] by die huis,” vertel Altus. “Ons is mal oor wat ons doen, maar die kruis wat ons as kunstenaars moet dra, is die tye weg van ons huise en kinders af.”

Pieter, wat ook die eienaar is van die platemaatskappy Legato Records, staan ook eersdaags saam met sy verloofde, Karin Riekert, voor die kansel. “Ek sien baie uit daarna. Ek dink ek is nou op ʼn plek in my lewe waar ek gereed is om rustig te raak,” sê hy.

Ligjare is op alle digitale musiekplatforms beskikbaar. Volg die groep se vertonings op die Facebook-blad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Ans ·

Wonder of Pottie weet dat hy kan sing? Hy kan mos nou daar sing in Sasha se plek!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.