Gevleuelde Pegasus: Ferrari van vleuelklaviere

Schimmel Pegasus K208 in rooi. (Foto: Verskaf)

Deur Susan Maré

Gevleuelde woorde is nodig om die futuristies-ontwerpte Schimmel Pegasus-vleuelklaviere te beskryf. Vaartbelyn soos ’n Ferrari met vlerke soos die mitiese, goddelike perd, Pegasus – een van die meer erkende wesens in die Griekse mitologie.

Nie almal, en veral vleuelklavierpuriste, is met dié argitektoniese wonder in die klavierboubedryf beïndruk nie.

Die Pegasus was die uitdagende idee van die eksentrieke Duitse ontwerper, prof. Luigi Colani, in samewerking met Nikolaus Schimmel (derde geslag) van die firma Schimmel in Braunschweig, Duitsland. Schimmel bou reeds sedert 1885 klaviere en in 2021 is daar al vier geslagte van dié familie wat in die bedryf werk. Alles by Schimmel is dalk ekonomies nie meer so pluis nie omdat dié firma reeds in Januarie 2016 om watter redes ook al 90% van sy aandele aan China se staatsbeheerde Pearl River Piano-maatskappy verkoop het.

Die Pegasus kan ook as ’n driedimensionele beeldhouwerk beskryf word, en nie sonder goeie rede nie. Luigi Colani het knap ná WWII in Berlyn gestudeer as student in beeldhou- en skilderkuns. Later het hy hom ook as aërodinamikus gekwalifiseer in Parys, Frankryk. Nog later het hy, onder meer, motors, meubels, huishoudelike artikels en bote ontwerp waarvoor hy baie toekennings verwerf het.

“My wêreld is rond,” het hy gesê. “Reguit lyne bestaan nie in die natuur nie. Om hierdie rede glo ek in bio-ontwerp en gebruik ontwerpe wat kragtig en sensueel is.”

Die eerste Pegasus-klavier is in 1997 gebou. Die Pegasus K208 met sy “aangeboude” klavierstoel met ’n kussing van leer word ontwerp in ’n enkelgolfbuiging. Die klaviere het nie pote nie en staan op plexi-glaspanele (akriliese plastiek).

Die klavier se deksel weerspieël die mitiese perd en die meganika is gebou volgens prima Schimmel-konsertklavierstandaarde.

Die Pegasus is ’n veselglasklavier sonder nate en het 88 klaviersleutels van dennehout (spruce keys). Dit is tydrowend om enige klavier te bou en die Schimmel-fabriek kan glo slegs twee Pegasus-klaviere per jaar vervaardig. Klaviere wat deur Schimmel vervaardig word, het selfs ’n “rusperiode”, glo om stabiliteit te verseker.

Die groot vraag is hoe die klank van die Pegasus vergelyk met groot name soos Steinway, Bösendorfer, Bechstein, Blüthner, Förster en ander beroemde vleuelklaviere. Kommentare van musiekliefhebbers en professionele mense wissel. Nie almal is met, byvoorbeeld, die Pegasus K208 ingenome nie, soos in die YouTube-kommentaarblokkies onder allerlei name.

Arapaima Gold: “As jy van die Bösendorfer hou, gaan hierdie klavier jou nie tevrede stel nie.”

The Road to Mars: “Hierdie klavier lyk goed, maar die klank is nie goed nie. Te helder en steriel.”

Roro Bobo: “Dit klink soos glas!”

As-I-c-it: “Sterker basnote sou dit perfek gemaak het.”

Piano Guy: “Die klank is pure plastiek en klink kommersieel. Geen my ’n Steinway bo almal.”

The Straniero: “Ek mis die klank van hout.”

Krazeei Zatrion: “Dit is die Ferrari van klaviere – dit het selfs die perdekrag!”

Somoglai: “Nee! Dit klink aaklig op my ore!”

Schimmel Pegasus K208 in blou. (Foto: Verskaf)

Intussen groei die Pegasus in gewildheid. Groot name soos Bolshoi Theater, Moscow Conservatorium, L’Opera de Marseille, English National Ballet, Conservatoire National Superieur de Paris, Royal Academy of Music, Toronto Symphony en ander het die klavier al aangekoop. Die Pegasus is ook in die film Annie in 2014 gebruik.

Die Pegasus K208-vleuelklavier weeg 520 kg (88 geronde note) en gaan die koper meer as $300 000 (sowat R4,2 miljoen) uit die saak jaag. ’n Bösendorfer Grand Piano 200 (tweedehands) met ’n gewig van 353 kg (88 note) kos, soos geadverteer deur W. Heuer Musikhaus in Stellenbosch R1 950 000 en is van spesiale hout vervaardig.

Die Pegasus K208 is nie die enigste klavier wat deur die klankgrense gebreek het nie. Ander innoverende of ongewone klaviere is al in Duitsland, Hongarye en Amerika gebou:

  • Steinway & Sons se Fibonacci-klavier is spesiaal gebou om die vervaardiging van die firma se 600 000ste klavier in 2015 te huldig.
  • Die Bogányi-klavier (ontwerp deur ’n Hongaarse pianis), waarna ook as die Batman-klavier verwys word, asof dit ’n voorwerp in ’n wetenskapfiksie-tema is.
  • Klavins Una Corda (ontwerp deur die Duitse klavierbouer David Klavins).
  • Scriabin se “Tastiera per luce” (sleutelbord met ligte) is ’n klawerbord wat spesiaal ontwerp is vir die uitvoering van Prometheus van Scriabin in 2010 deur die Yale-simfonieorkes (Amerika).

Video 1: Bösendorfer Grand piano 200

Video 2: Schimmel Pegasus K208

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Stof

Esteties sooooo strelend.
En elke kreatiewe siel sal bereid wees om ‘n hele naweek se braaivleis, pap en braaibroodjies op te gee vir net een geleentheid om sy vingers oor hierdie instrument se klawers te laat gly.
Ek bieg…

JohanR

Baie mooi. Kan al sien dat al die musiek sterre gaan een op die verhoog he. Verbaas niemand het al aan die idee gedink om ‘n alles in een klavier te skep nie. Jy hoef nie eers vir die stoel te gaan soek nie waar die kinders hom gebruik het om op te staan terwyl hulle die koekie bluk in die kombuis gaan afhaal.