Gewilde Afrikaanse sanger waag ‘tweede kans’ met jongste vrystelling

Andre Schwartz - Tweede KansDie bekroonde Afrikaanse sanger André Schwartz is een van die grootste supersterre wat die plaaslike vermaakbedryf nóg oor die afgelope paar dekades opgelewer het.

Schwartz se jongste musiekvrystelling, die enkelsit “Tweede Kans”, doen nie net sy bestaande reputasie gestand nie, maar oortref eintlik sy wenresep. Die enkelsnit vorm deel van ’n nuwe album wat vir later vanjaar beplan word.

Nie net bekoor hy gehore as bekroonde sanger, liedjieskrywer en verhoogkunstenaar nie, maar beïndruk hy ook as televisieaanbieder en akteur in reekse soos Sterlopers en die SABC 2-sepie 7de Laan. Hy is ook in vele musiekblyspele te sien en vertolk juis tans die rol van Kaptein Von Trapp in die immergewilde musiekproduksie van The Sound of Music.

Schwartz beskryf “Tweede Kans” as ’n “popsnit met ’n volwasse kontemporêre aanslag” en vertel dan hoeveel dit vir jouself, en iemand anders, kan beteken wanneer jy bereid is om tweede kanse te gee.

“Ek was mal oor die liedjie toe ek dit vir die eerste keer hoor” sê Schwartz. “Die melodie is beeldskoon en die lirieke, wat deur Joe Foster geskryf is, vang empatie vas. Ons is so vinnig om mense uit ons lewe te sny. Deur vir enigiemand met wie jy al ’n pad gestap het nog ’n kans te gee, hetsy op ’n persoonlike of professionele vlak, kan vir albei partye ’n baie lonende ervaring wees,”

Hy vertel die snit het lekker ritme. “Dit is egter beslis nie bubblegum nie en is iets waarna jy regtig kan luister. Mense geniet integriteit en daar is ’n integrale integriteit hierin wat luisteraars van alle ouderdomme gaan intrek.”

Volgens Schwartz kan hy ’n kragtige emosionele stuk uit ’n musiekblyspel “moeiteloos opvoer” soos een van sy poptreffers van ouds en daarom was dit vir hom lekker om iets nuut te probeer. “Dit was nogal vir my ’n uitdaging om hierdie tipe volwasse kontemporêre styl, wat tans so in die mode is, behoorlik vas te vang in terme van dinge soos frasering. Dit was vir my baie lekker, veral omdat dit ’n styl is waarin ek nog nie gewerk het nie,” verklap hy.

Volgens Schwartz moet musiek ’n storie vertel en met luisteraars praat, en hy meen dat sy jongste vrystelling dit perfek regkry en ook simbolies is van sy planne om weer vir ’n slag sy eie vertonings te doen. “Ek het met ‘Tweede Kans’ balans tussen musiek en liriek wat saam praat. Die hoofdoel is egter om weer te begin konserthou. Dis iets wat ek baie afgeskeep het, maar waaroor ek baie opgewonde is omdat ek soveel nuwe dinge het om met gehore te deel. Wanneer een deur toegaan, maak God ’n venster oop en ons moet dit raaksien en aangryp as ’n tweede kans,” voeg hy by.

“Tweede Kans” is op radiostasies landwyd te hoor en sal eersdaags op die musiekstromingsdiens Joox te koop wees. Luister hier na ʼn lusmaker van die liedjie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Valerie ·

Wat ook al sy storie, die ou kan sing. Ek het hom al in die tagtigs gehoor. Hy kan sing en weet hoe om emosies te gebruik, intonasie, asemhaling, alles. Hy hoef nie te vrees nie. ‘n Goeie stem verdwyn nie sommer nie, behalwe as jy hom wegrook, wegdrug, of wegdrink.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.