Gewilde Britse popgroep op pad na SA

Die groep saam op die O2-arema se verhoog. (Foto: Matt Crossick/Facebook/Take That)

Die Britse popgroep Take That gaan in Oktober hul tassies pak vir twee konserte in Suid-Afrika as deel van hul This Life on Tour-konsertreeks.

Dié driemangroep, bekend vir treffers soos “I Want you Back”, bestaan tans uit Gary Barlow, Mark Owen en Howard Donald.

Take That het in 1990 in Manchester, Engeland ontstaan. Die popster Robbie Williams en sanger Jason Orange was ook oorspronklik lede van die groep, maar het onderskeidelik in 1995 en 2014 paadjies met hulle geskei.

Take That is op Sondag 20 Oktober by die SunBet Arena by Time Square in Pretoria en op Dinsdag 22 Oktober by die GrandWest Casino se Grand Arena Grand Arena in Kaapstad.

Konsertgangers kan uitsien na treffers in die negende album This Life, asook ander Take That-gunstelinge.

Take That in die 1990’s. (Foto: Facebook/Take That)

Volgens ʼn verklaring deur Big Concerts, die organiseerders van die geleentheid, is Take That se jongste album ʼn “lewendige werk wat ʼn groep wat musikaal op hul mees selfversekerde is”.

Die veelbekroonde popgroep het deur die jare ook bekend geword vir die gehalte van hulle vertonings. Hulle hou tans die rekord vir die meeste optredes in Londen se bekende The O2-arena met 34 konserte.

Barlow, die groep se hoofsanger, gaan boonop binnekort sy eie reisprogram in Suid-Afrika kom verfilm.

Die Britse-kanaal ITV het onlangs bevestig dat Barlow, wie se eie wynreeks in Suid-Afrika vervaardig word, die Wes-Kaapse wingerde en plaaslike kookkuns in ʼn nuwe program sal verken.

“Ek is absoluut verheug om my passie vir kos, wyn en reis in hierdie nuwe reeks vir ITV te verken. Ek was nog altyd lief vir Suid-Afrika en ek kan nie wag om regtig alles te sien wat dit bied nie: die mense, die plekke, sy wonderlike geskiedenis én ʼn glasie of twee van sy ongelooflike wyn!” het Barlow oor die program gesê.

  • Kaartjies vir This Life On Tour sal vanaf Vrydag 1 Maart om 09:00 eksklusief op Ticketmaster te koop wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.