Gewilde TV-man spog met dubbelalbum

Andries Vermeulen (Foto: Verskaf)

Die Afrikaanse sanger en televisie-aanbieder Andries Vermeulen gee aanhangers ʼn dubbeldosis vermaak op sy jongste album, In Afrikaans – dié album bied tien liedjies uit die pen van bekende skrywers én 30 oorspronklike Afrikaanse stories.

Vermeulen se vorige album, Kô lag ‘n bietjie, was ʼn wegholsukses en het van die kunstenaar ʼn huishoudelike naam gemaak.

Die sanger sê In Afrikaans bevat steeds sy eie stempel, maar het ʼn meer volwasse aanslag en stel ander dele van sy persoonlikheid ten toon.

Die eerste CD in die dubbelalbum-pakket bevat tien liedjies wat hy saam met kunstenaars soos Elvis Blue, Adam Tas en Steve Hofmeyr geskryf het. Die tweede CD bevat 30 stories wat Vermeulen self geskryf óf van êrens geleen het.

“Dit is sekerlik die beste samevatting van storievertelling en liedjies wat ek nog gedoen het,” vertel hy. “Die storievertellings op die album sal jou laat lag, maar jou ook die nostalgie aanroer en jou laat vergeet van elke liewe een van jou probleme. Dit weerspieël die nostalgie en waarde van storievertel in Afrikaans op sy beste.”

Vermeulen, wat ook bekend is vir die kykNET-kletsprogram OppieStoep, het meer as 24 000 kopieë van sy vorige album verkoop.

Dié album het in 2016 ook ’n kykNET Ghoema-toekenning vir beste humor-album ingepalm en was benoem vir ’n Huisgenoot Tempo-toekenning.

In Afrikaans is reeds dwarsoor Suid-Afrika in alle musiekwinkels beskikbaar, asook op iTunes en JOOX. Vir meer inligting, besoek sy Facebook-blad.

Vermeulen is Woensdagaand by Die Blou Hond in Pretoria te sien. Kaartjies is beskikbaar op Die Blou Hond se Facebook-blad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

thelsa ·

Doe zo voort Anneries ! jy is eg Suid-Afrikaans en ons is trots op jou. Geniet jou humor terdeë. Hierdie is ‘n Africana wat vir die nageslag bewaar moet word. Eendag as hulkle selfone gebreek is kan hulle lekker na die stories luister en die lewe geniet.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.