Gewilde jeugkoor ook dié naweek by Bands for Bricks

Die Ndlovu Youth Choir in aksie op die verhoog van America’s Got Talent. (Foto: Facebook)

Die Suid-Afrikaanse jeugkoor van Limpopo wat onlangs bekendheid verwerf het toe hulle die beoordelaars van America’s Got Talent mateloos beïndruk het, is nou ook by die lys kunstenaars gevoeg wat dié naweek by Bands for Bricks te sien sal wees.

Die Ndlovu Youth Choir het verlede maand die gehoor gaande gehad tydens hul oudisie vir America’s Got Talent, waar hulle “My African Dream” opgevoer het. Die koor sal dié naweek weer “My African Dream” by Bands for Bricks opvoer, asook hul weergawe van Ed Sheeran se “Shape of you”.

Die jeugkoor sluit aan by ʼn stewige lys kunstenaars wat almal deel vorm van die Bands for Bricks-konsert. Anton Goosen, Beeskraal, Valiant Swart, Koos Kombuis, Gian Groen, Jan Blohm, Klopjag, Ddisselblom, Die Melktert Kommissie, Roan Ash, Tidal Waves, Bottomless Coffee Band, Hemelbesem, Joe Foster, Appel en Johnathan Martin sal almal op die verhoog te sien wees.

Die legendariese Piet Botha sou oorspronklik ook by Bands for Bricks opgetree het, maar is in Junie oorlede nadat hy vroeër vanjaar met pankreaskanker gediagnoseer is. ʼn Huldeblyk aan Botha sal tydens die konsert deur die rockgroep Jack Hammer gedoen word.

“Dit is baie kunstenaars,” erken Johrné van Huyssteen, voorman van Ddisselblom en organiseerder van die konsert, aan Maroela Media. “Maar elke kunstenaar wat ons genader het, was van meet af entoesiasties en ywerig om deel te wees.”

Klopjag is net een van die talle groepe wat by Bands for Bricks te sien sal wees. (Foto: Facebook)

Van Huyssteen, vertel Tanya Michelle, een van die vennote van Bands for Bricks, het nadat die video van die Ndlovu Youth Choir se oudisie soos ʼn veldbrand op sosiale media versprei het, hulle gekontak om te hoor of hulle deel sal wees van dié inisiatief. Kort daarna het Van Huyssteen vir Ralf Schmitt, die koorleier, ontmoet en hom van die idee agter Bands for Bricks vertel. En die spreekwoordelike koeël was deur die kerk – Ndlovu Youth Choir was deel van die program.

Maroela Media het vroeër berig Bands for Bricks is ʼn maatskaplike entrepreneurskap-inisiatief waardeur daar teruggegee word aan die gemeenskap. Helfte van die opbrengs van kaartjieverkope sal geskenk word aan SA Cares for Life, die Beeld‑Kinderfonds en GrootFM se #HOOPstoot-projek.

Meer as 3 000 kaartjies is reeds vir die konsert verkoop.

SA Cares for Life is ʼn organisasie wat armoedeverligting en -verbreking in behoeftige gebiede doen. Van Huyssteen verduidelik aangesien die lede van die Ndlovu Youth Choir ook uit ʼn arm agtergrond kom, maar steeds bo hul omstandighede uitstyg om hul passie vir musiek na te jaag, pas dié koor se storie goed aan by die doel van Bands for Bricks.

“Ralf het gesê net omdat jy in armoede leef, beteken nie jy ís armoede nie. En dit was vir my so ʼn mooi manier om dit te stel en het so goed aangesluit by die hele idee agter Bands for Bricks,” sê hy.

Van Huyssteen sê hy het self as deel van die beplanning vir die konsert een van die nedersettings besoek waar SA Cares for Life werksaam is. “Ek dink ek het daar vir die eerste keer werklik besef wat armoede is,” sê hy.

“Daar is mense daar wat in omstandighede bly wat ʼn sinkhuis of HOP-huis laat luuks lyk. Daardie mense het letterlik stukke plastiek en hout en wat ook al hulle kan kry aanmekaar geslaan vir ʼn huis. Dan moet hulle nog huur betaal ook vir hierdie strukture. Vir R200 ʼn maand kry jy ʼn klein kamertjie sonder ʼn venster. Vir R350 of R400 ʼn maand het jy dalk ʼn venster. Daar is nie een enkele spoeltoilet vir daardie inwoners nie. Dit is die tipe swaarkry wat die meeste van ons nooit eers sien nie.”

Van Huyssteen is baie entoesiasties oor die werk wat SA Cares for Life doen en die manier hoe die organisasie nie net kos en klere uitdeel nie, maar werk om volhoubare verandering vir armes te bring. Die organisasie bied nie net tydelike verligting vir hierdie gemeenskappe nie, maar help met vaardigheidsontwikkeling en entrepreneuriese groei, vroeë kinderontwikkeling, ouerskapsopleiding, baba- en kleutersorg en redding van weggooibabas.

“Dit is hoekom ek so bly is dat ons hierdie organisasie kan ondersteun, want hulle werk in wit en swart gemeenskappe op ʼn volhoubare manier en maak ʼn verskil daar waar geen ander organisasie of welsynsgroep doen nie,” sê Van Huyssteen.

Bands for Bricks word hierdie Sondag 14 Julie van 12:00 tot 15:00 by die Sun Arena by Time Square in Pretoria aangebied. Kaartjies kos tussen R300 en R350 en is by iTickets beskikbaar.

Persone wat graag donasies vir die Bands for Bricks-inisiatief wil maak, kan dit ook by iTickets doen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.