Gewilde sanger en aktrise verloof

Danie du Toit en Marguerite van Eeden net na hulle verloof geraak het (Foto: Facebook)

Die Vaselinetjie-aktrise Marguerite van Eeden en die hoofsanger van Spoegwolf, Danie du Toit, het Woensdag in Stellenbosch verloof geraak.

Dié paartjie, wat al vir bietjie meer as ʼn jaar bymekaar is, het verloof geraak buite die restaurant waar hulle hul eerste ontmoeting gehad het.

“Ek het ʼn foto van Marguerite in die koerant gesien. Ek het gedink sy is pragtig, so ek het toe vir haar ʼn e-pos gestuur en gevra of sy saam met my wil uitgaan vir ete die aand. Sy het toe ingestem, en daardie aand het ons begin ‘date’,” het Du Toit gesê.

Van Eeden en Du Toit  praat al ʼn geruime tyd daaroor om verloof te raak en dra ook al vir agt maande lank ringe wat hul belofte aan mekaar verteenwoordig.

“Al het sy geweet dit kom, was dit ʼn baie spesiale oomblik. Sy was steeds verras. Ek het haar in die straat voor Basic Bistro in Stellenbosch gevra – ons moes die motors in die straat stop sodat ek kan vra, so dit was baie opwindend!” het hy gesê.

Du Toit het net voor die verlowing ʼn woonstel net oorkant dié restaurant gekoop, waar hulle na die verlowing feesgevier het.

“Ons het ons vriende en ons albei se families genooi, en sommer in die leë woonstel ʼn lekker partytjie gehou en feesgevier. Dit is vir ons ʼn baie spesiale plek. Ons gaan dan daar bly as ons trou,” het Du Toit gesê.

Du Toit het gesê hy weet nog nie presies wanneer hulle sal trou nie, maar dat hulle dán eers lekker partytjie gaan hou.

Du Toit is in sy tweede jaar van sy PhD in geskiedenis en Van Eeden is besig om haar BA-graad te voltooi.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.