Die Vaselinetjie-aktrise Marguerite van Eeden en die hoofsanger van Spoegwolf, Danie du Toit, het Woensdag in Stellenbosch verloof geraak.
Dié paartjie, wat al vir bietjie meer as ʼn jaar bymekaar is, het verloof geraak buite die restaurant waar hulle hul eerste ontmoeting gehad het.
“Ek het ʼn foto van Marguerite in die koerant gesien. Ek het gedink sy is pragtig, so ek het toe vir haar ʼn e-pos gestuur en gevra of sy saam met my wil uitgaan vir ete die aand. Sy het toe ingestem, en daardie aand het ons begin ‘date’,” het Du Toit gesê.
Van Eeden en Du Toit praat al ʼn geruime tyd daaroor om verloof te raak en dra ook al vir agt maande lank ringe wat hul belofte aan mekaar verteenwoordig.
“Al het sy geweet dit kom, was dit ʼn baie spesiale oomblik. Sy was steeds verras. Ek het haar in die straat voor Basic Bistro in Stellenbosch gevra – ons moes die motors in die straat stop sodat ek kan vra, so dit was baie opwindend!” het hy gesê.
Du Toit het net voor die verlowing ʼn woonstel net oorkant dié restaurant gekoop, waar hulle na die verlowing feesgevier het.
“Ons het ons vriende en ons albei se families genooi, en sommer in die leë woonstel ʼn lekker partytjie gehou en feesgevier. Dit is vir ons ʼn baie spesiale plek. Ons gaan dan daar bly as ons trou,” het Du Toit gesê.
Du Toit het gesê hy weet nog nie presies wanneer hulle sal trou nie, maar dat hulle dán eers lekker partytjie gaan hou.
Du Toit is in sy tweede jaar van sy PhD in geskiedenis en Van Eeden is besig om haar BA-graad te voltooi.
Veels geluk op ‘n mooi toekoms saam!