Gewilde universiteitskoor hou jaar se eerste optredes

US-universiteitskoor

Volgens die US universiteitskoor se dirigent, André van der Merwe, kan gehore hulle gereed maak vir ’n musikale reis. Foto: Verskaf.

Ná twee stampvol konserte tydens vanjaar se US Woordfees in Maart begin die Stellenbosch Universiteitskoor hul jaarprogram dié week met vier konserte waarvan drie in hul tuisdorp se Endlersaal.

Met sy kenmerkede entoesiasme sê dirigent André van der Merwe gehore kan hulle gereed maak vir ’n musikale reis. “Ons sing vanjaar vyf werke wat vir die eerste keer in Suid-Afrika uitgevoer word. Dit sluit in die Switserse komponis Michael Ostzyga se Jupiter. Die subtitel van die werk is ‘’n Kosmiese reis’. Dit is ’n kaleidoskopiese werk wat die gehoor letterlik op ’n reis neem.”

Nog ’n Suid-Afrikaanse première is Bronze Triptych deur Dan Forrest. In dié werk word twee klaviere ingespan en die pianiste is Elna van der Merwe en Zorada Temmingh.

Van der Merwe sê die program behoort aan uiteenlopende smaak te voldoen: Daar is byvoorbeeld musiek van Lady Gaga en A Great Big World, asook Afrikaanse werke van Niel van der Watt en Peter Klatzow. Dit is nou benewens die meer “tradisionele koormusiek” wat gehore van hierdie wêreldkampioen-koor kan verwag.

  • Op Donderdag 7 en 14 Mei is daar om 13:00 middaguurkonserte in die Endlersaal, Konservatorium, Universiteit van Stellenbosch. Toegang is gratis.
  • Op Sondag 10 Mei bied die koor ’n vollengte konsert wat om 16:30 begin. Dit is ook in die Endlersaal, Konservatorium, Universiteit van Stellenbosch. Kaartjies is te koop by Computicket en kos R145.
  • Op Vrydag 15 Mei gee die koor sy tweede vollengte konsert, hierdie keer in die Hugo Lambrechts-ouditorium in Parow. Dit begin om 20:00 en kaartjies kos R120 vir volwassenes en R100 vir studente en pensioenarisse.

Om die Stellenbosch Universiteitskoor vir ’n optrede te bespreek, bel Jana Hattingh by 021 886 5036 of stuur ’n e-pos na [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.