Ghoema-toekennings 2018: Jo Black maak skoonskip

Jo Black met twee van sy sewe toekennings. (Foto: Simon Sonnekus)

Jo Black met twee van sy sewe toekennings. (Foto: Simon Sonnekus)

Dit was ʼn goue affêre toe die gewildste kunstenaars in die Afrikaanse musiekbedryf Sondagaand saamgetrek het vir die jaarlikse Ghoema-musiektoekennings.

Dié geleentheid het by die Theatre of Marcellus by Emperors Palace plaasgevind. Die sterre van dié bedryf het vanjaar vir die sewende keer byeengekom om plaaslike Afrikaanse kunstenaars te vereer vir hul jongste werk.

Die groot wenner van die aand was Jo Black, wat met sy groot baard en diep stem aanhangers landwyd aan sy voete het. Dié gewildheid het hom sewe toekennings besorg, onder meer vir album van die jaar vir Skepe, manskunstenaar van die jaar, nuweling van die jaar, digitale album van die jaar, digitale liedjie van die jaar en gewildste liedjie van die jaar. Hy het ook ʼn eretoekenning ontvang vir beste verkoper.

Opgewondenheid het geheers onder die sterre terwyl hulle op die glanstapyt in die Red Roman Shed vir die flitsende kamera’s poseer het.

Willem Botha. (Foto: Leonie Bezuidenhout/Maroela Media)

Willem Botha. (Foto: Leonie Bezuidenhout/Maroela Media)

Willem Botha, wat benoem is in die kategorie vir beste pop-album deur ’n manskunstenaar vir sy album Soen en vergeet, het gasheer gespeel vir die aand en met ʼn grys geruite pak met rooi bykomstighede voor die kameras gepronk. Kurt Darren en Jay het Ghoema-geskiedenis gemaak toe hulle albei met die beeldjie weggestap het vir beste pop-album deur ʼn manskunstenaar.

Die popsangeres Irene-Louise van Wyk het in ʼn pienk, prinsesagtige skepping die geleentheid bygewoon. Caroline-Grace, Sharoney en Eva Morgan het almal in skitterblink rokke op die tapyt verskyn.

Dié sangeresse is almal benoem in die kategorie vir beste pop-album deur ʼn kunstenares, maar Karlien van Jaarsveld is met die beeldjie huis toe vir Sing vir liefde. Van Jaarsveld is ook aangewys as die publiek se gunstelingkunstenares (vrou) terwyl Steve Hofmeyr gekies is as die publiek se gunstelingkunstenaar (man).

Die jong boeremusiekmusikant, Kosie Beukes, het saam met sy ma, Julia, die glansgeleentheid bygewoon. Hy is benoem in die kategorie vir beste boere- of tradisionelemusiek-album. Ricus Nel het egter met sy album, Ricus Nel bring hulde aan Worsie Visser, die toekenning gewen.

Die kletsrymer Yoma het die prys vir beste Afrikaanse hip-hop-liedjie van die jaar met “Wille kat” verower. Sy was saam met Hakkiesdraad Hartman, wat in ʼn interessante baadjie en rooi velskoene op die glanstapyt poseer het, in dié kategorie benoem. Yoma het ook die prys onder haar man, die bekende kletsrymer Hemelbesem, wat ook in dié kategorie benoem is, se neus weggeraap.

Francois van Coke het die beeldjie vir beste alternatiewe album gewen vir sy rock-album Hierdie is die lewe. Adéle Fouché, Lila Botha en Mjön van Blommenstein van die rock-groep Saarkie is met hul eerste Ghoema-toekenning vir beste rock-album, Queen van die toorbos, huis toe.

Lydia Winchester, die bekende musiekpromotor, is vereer met die toekenning vir lewenslange bydrae tot die musiekbedryf terwyl die Klipwerf Dansorkes, wat voete reeds 50 jaar lank op die dansvloer aan die skoffel hou, met die Diamant-toekenning vereer is.

Gewilde gesigte in die kunstebedryf soos Donnalee Roberts, Cindy Swanepoel, Clint Brink en Lynelle Kenned, wat tans in die splinternuwe Afrikaanse fliek Wonderlus te sien is, het as aanbieders vir die aand opgetree en ook almal ʼn draai op die glanstapyt gemaak. JP Keyter en Naas Botha het ook hul lyf aanbieder gehou.

Hier is ʼn volledige lys van die wenners:

Album van die jaar

Skepe – Jo Black (vervaardigers: Murray Lubbe en Danny Smoke)

Kunstenaar van die jaar

Jo Black

Kunstenares van die jaar

Juanita du Plessis

Groep van die jaar

Die Heuwels Fantasties

Nuweling van die jaar

Jo Black – Skepe

Beste komposisie van die jaar

Die Brug – Elvis Blue (skrywer: Elvis Blue)

Beste Afrikaanse hip-hop-liedjie van die jaar

Wille kat” – Yoma (skrywer: C. Witbooi)

Beste pop-album deur ʼn kunstenaar (man)

So lank sal ek jou liefhê – JAY
Laat die dansvloer brand – Kurt Darren

Beste pop-album deur ʼn kunstenares (vrou)

Sing vir liefde – Karlien van Jaarsveld

Beste kontemporêre album deur ʼn kunstenaar (man)

Skree – Steve Hofmeyr

Beste kontemporêre album deur ʼn kunstenares (vrou)

Sing my hart uit – Liezel Pieters

Beste album deur ʼn duo of groep

Gunsteling seisoen – Kaleidoskoop

Beste geestelike album

Bruid – Anders

Beste kinderalbum of -DVD

Liedjies en rympies – Piet Smit

Beste alternatiewe album

Hierdie is die lewe – Francois van Coke

Beste rock-album

Queen van die toorbos – Saarkie

Beste boere- of tradisionelemusiek-album

Ricus Nel bring hulde aan Worsie Visser – Ricus Nel

Beste instrumentele album

Insomnia – CH2

Beste ligte klassieke Afrikaanse album

Miljoene stemme – Ons lieflinge

Beste country-album

Kleindorp-dromer – Elandré

Beste musiekvideo

Musiekvideo-trilogie: “Lei my na die water/Vroumens” – APPEL (regie: Gerhard van Rooyen – GVR)

Beste liedjieskrywer – solo

Chris Chameleon

Beste liedjieskrywer – samewerkingsgroep

Hunter Kennedy, Fred den Hartog en Pierre Greeff

Beste vervaardiger – solo

Theo Crous
Beste vervaardiger – samewerkingsgroep

Theo Crous en Karen Zoid

Die onderstaande drie kategorieë word nie beoordeeel, maar slegs via ’n stemproses deur die publiek aangewys:

Publiek se gunstelingkunstenaar

Steve Hofmeyr

Publiek se gunstelingkunstenares

Karlien van Jaarsveld

Publiek se gunstelingduo of -groep

Tussen Sterre

Die onderstaande vyf kategorieë word nie beoordeeel nie, maar slegs via kommersiële statistieke soos verskaf deur die Ghoema-bestuurskomitee aangewys:

Digitale album van die jaar

Skepe – Jo Black (vervaardigers: Murray Lubbe en Danny Smoke)

Digitale liedjie van die jaar

“Skepe” (skrywers: Jo Black, Johan Vorster en Christoph Kotze)

Luitoon van die jaar

“Die Boom” – Monique Steyn

Gewildste liedjie van die jaar

“Skepe” (skrywers: Jo Black, Johan Vorster en Christoph Kotze)

Eretoekenning: Beste verkoper

Jo Black – Skepe

Die onderstaande twee kategorieë word deur die Ghoema- raad van trustees aangewys:

Eretoekenning: Lewensbydrae

Lydia Winchester

Eretoekenning: Diamant-ghoema

Klipwerf Dansorkes

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Piet Pompies ·

Het die program op TV gekyk, uitstekend, goeie inhoud, trots SA kunstenaars. My keuse was Jo Black en Elvis Blue, het hulself goed van hulle taak gekwyt, geluk aan die ander kunstenaars ook.

Blommie ·

Ek hoop van harte dat die jonge heer Beukes volgende jaar ‘n toekenning sal ontvang. Hy is finominaal en baie musikaal met soveel verskillende musiek instrumente. Sterkte en voorspoed vir jou

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.