Ghoema-toennings: verdien die wenners dit?

GhoemaDie wenners van die enigste onafhanklike Afrikaanse musiektoekennings, die Ghoemas, is Sondagaand by Carnival City bekendgemaak.

Die kriteria vir beoordeling vir die albums wat vir dié toekennings benoem is, sluit artistieke vermoë, identiteit, produksiewaarde, vermaakwaarde en omslagontwerp in, terwyl musiekvideo’s en DVD’s beoordeel word volgens inhoud en liedjiekeuse (in die geval van DVD’s), regie, uitvoering, tegniese versorging en vermaakwaarde. Die albums, musiekvideo’s en DVD’s wat vir die toekennings in aanmerking gekom het, moes tussen 1 Januarie 2013 en 31 Desember 2013 uitgereik gewees het. Die vraag is nou net: hoeveel van die wenners het hul toekennings werklik verdien?

Twee kunstenaars het met belangrike toekennings weggestap: Elvis Blue se album Afrikaans is as die album van die jaar aangewys, terwyl hy ook die toekenning as beste manlike kunstenaar gewen het. Daar is by my geen twyfel dat Elvis wel verlede jaar se heel beste Afrikaanse album vrygestel het nie, en dis jammer dat dit nog net twee treffers, Rede om te glo en Spore, opgelewer het. Daar is ook ander snitte op die album met trefferpotensiaal.

Karlien van Jaarsveld het die toekenning as die beste vroulike kunstenaar gewen, asook die beste pop-album deur ‘n vroulike kunstenaar. Sy was ook die algehele topverkoper vir die jaar. Daarby het Robin Kielly die toekenning as beste vervaardiger gewen vir Karlien se trefferliedjie Hande. Die mededinging in die kategorieë waarin Karlien vereer is, was baie straf en veral Andriëtte, wie se album Wat rym met liefde as die beste kontemporêre album deur ‘n vroulike kunstenaar aangewys is, kan haarself ongelukkig ag dat sy nie met méér toekennings weggestap het nie.

‘n Groot verrassing is dat Kurt Darren en Bok van Blerk nie een toekenning kon wen nie, hoewel hul onderskeie trefferliedjies Seerower en Land van melk en heuning groot treffers was.

Die liedjie van die jaar was ook ‘n verrassing. Eden het vier jaar laas ‘n album vrygestel, maar het die liedjie Superhero vir die versamelalbum Afrikaans is groot Volume 5 opgeneem. Hierdie liedjie het die toekenning as liedjie van die jaar gewen, maar die kunstenaar wat myns insiens die toekenning verdien het, was Elvis Blue se Rede om te glo. Die rede waarom ek dit sê, is dat laasgenoemde se lirieke baie meer om die lyf het en die toets van die tyd sekerlik beter sal deurstaan.

Die beste Christelike album van die jaar was ons te wagte: Joe Niemand het die toekenning as beste liedjieskrywer van die jaar gewen, en sy jongste album Genoeg is genoeg is aangewys as die beste Christelike album van die jaar. Die standaard was weliswaar nie baie hoog nie, en die enigste albums wat hoegenaamd in aanmerking sou kon kom, was Ghapi se III, wat uit bekende en oorspronklike liedjies bestaan, Eerste liefde van Piet Smit, Psalms 2 van Louis Brittz en Ons dien ‘n God wat lewe van Willie en Natasha Joubert.

Select Musiek het met ‘n wenresep vorendag gekom toe hulle Ray Dylan, Elizma Theron, Nicholis Louw en Monique saamgevoeg het om 4 Werke te vorm en hulle het die toekenning vir die beste album deur ‘n duo of groep gewen. Die enigste ander groep wat dalk ‘n kans gehad het om dié toekenning te wen, was Mwah, wie se debuutalbum, Waarvoor wag jy?, ook verlede jaar verskyn het. Hulle is seker die beste vroulike sanggroep wat ons land in ‘n lang tyd gehad het. Die nuweling van die jaar was Joshua Na Die Reën, wie se treffer Lig op die horison ook net so wel die liedjie van die jaar-titel kon gewen het. Hy is beslis ‘n aanwins vir die Afrikaanse musiekbedryf en hopelik sal hy nog baie gewild word.

Die feit dat daar geen wenners in die humor- en country-kategorieë was nie, was geen verrassing nie. Miskien sal Wicus van der Merwe se jongste album, Popster, ‘n gunsteling wees vir die 2015- Ghoemas, maar vir vanjaar se toekennings was daar geen album wat goed genoeg was nie. Die standaard van komiese musiek in Suid-Afrika is myns insiens buitendien nie baie hoog nie. Wat country-musiek betref, is dié kategorie by die Ghoema-toekennings doodgebore. Dit wat Afrikaanse kunstenaars soos Manie Jackson en die Campbells as country beskou, is myns insiens nie die naam werd nie. Die legende van country-musiek, Lance James, sal dalk van my verskil, maar geen Suid-Afrikaanse kunstenaar kan country-musiek sing soos Alan Jackson, Garth Brooks of George Strait dit doen nie. Diegene wat nie hul musiek ken nie, kan gerus gaan luister na wat ware country-musiek is. Afrikaanse country is soos Afrikaanse reggae; dit werk nie.

Laastens moet ek net sê dat dit wonderlik was om te hoor dat Anton Goosen vereer is vir sy lewenslange bydrae tot Afrikaanse musiek. Ek het al die jare nog die grootste respek vir hom as sanger en liedjieskrywer; hy het nie net vir homself treffers geskryf nie, maar ook vir Carike Keuzenkamp, Laurika Rauch en natuurlik Sonja Herholdt, om net ‘n paar te noem. Hy is ‘n ware legende van Afrikaanse musiek.

Daar sal altyd omstredenheid rondom die geloofwaardigheid van toekenningsgeleenthede soos die Ghoemas wees, maar in die meeste gevalle het vanjaar se wenners hul toekennings verdien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.