Goeie dae- Munro

Goeie daeNadat Munro du Toit in 2007 derde in die Idols-kompetisie gekom het en aan Ons soek die sanger deelgeneem het, het hy pas sy debuutalbum, Goeie dae onlangs vrygestel.

Munro het al die snitte op die album self geskryf, en met die eerste snit, Goeie ou dae, kom jy al agter dat hy weet wat hy doen. Die lirieke is eintlik ‘n bietjie sarkasties, en ‘n mens moet dit dalk nie té ernstig opneem nie. Jy lag egter lekker daarvoor. Ella is iets heeltemal anders; dit is ‘n pragtige snit wat sy veelsydigheid as liedjieskrywer bewys.  Nuwe maan is die huidige treffersnit vanaf die album; dit word deesdae gereeld gespeel. Laaste dans is ‘n lekker snit, en veral die banjo-en kitaarwerk daarop is baie goed. Hopelik sal dit een van die treffers vanaf die album wees. Munro skryf en sing egter nie net in Afrikaans nie; Almost there is die eerste Engelse snit op die album en dit bewys dat hy ewe gemaklik in albei tale is. Miskien sal hierdie snit, met ‘n effense country-klank, gewild word by gehore wat nie gewoonlik na Afrikaanse musiek luister nie. Kaapse wind is ‘n baie mooi snit wat weer eens ‘n treffer kan word. Boer en Brit is beslis ‘n hoogtepunt op die album.  Hierin sing hy van ons land se geskiedenis, veral die Anglo-Boereoorlog. Hy sê hierin dat almal in die land in vrede saam kan lewe ten spyte van wat in die verlede gebeur het. As daar een snit wat baie beslis wyd oor die radio gespeel behoort te word, is dit hierdie een!

Hartedief is nog ‘n baie goeie snit, die kitaarwerk daarop is puik en die wysie en ritme laat ‘n mens sommer lekkerkry. Hier is nog ‘n moontlike treffer vanaf die album!  Fire in your eyes is die tweede en laaste Engelse snit op die album, en weer eens het hy dit self geskryf.  Munro woon deesdae in George, en op Outeniquaberge, die eerste treffer vanaf die album, sing hy van daardie omgewing. Die woorde van die volksliedjie Blink vosperd is ook slim hier ingewerk.  Skoenlappersoene is gelukkig nie ‘n vertaling van Bob Carlisle se Butterfly kisses nie; dit is ‘n oorspronklike komposisie wat ‘n mens laat lekkerkry. Hierin sing hy van verlore liefde, en baie mense sal met die woorde kan vereenselwig. 25 uur is nog ‘n baie goeie oorspronklike komposisie. Die laaste snit, Lewe nou, motiveer jou om voluit te lewe, en dis jammer dat dit aan die einde van die album weggesteek is.

Daar is al verskeie kunstenaars wat uit Idols gekom het en hulle op Afrikaanse musiek begin toespits het; Heniz Winckler, Elvis Blue en Andriëtte is drie ander. Munro het eintlik nie ‘n kompetisie soos Idols nodig gehad om tot die musiekbedryf toe te tree nie; hy is talentvol genoeg om dit ook op die harde manier te kon doen en dit is heel moontlik dat iemand hom in elk geval gou sou raaksien.  Hierdie album is vol treffers, maar op geen stadium kan jy Munro daarvan beskuldig dat hy musikale integriteit inboet nie. Hy is ‘n baie goeie sanger en liedjieskrywer en daarom verdien hy om groot sukses met hiedie album te behaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.