Gospel-Skouspel dié naweek in Kaapstad

Gospel skouspelNadat Gospel-Skouspel ‘n maand gelede vir die heel eerste keer in Pretoria aangebied is, word dié gewilde musiekvertoning Saterdagaand in die Grand West-arena in Kaapstad gehou.
Vanjaar is daar elf kunstenaars, waarvan die meeste hulself al gevestig het as vooraanstaande kunstenaars op die gebied van Afrikaanse Christelike musiek.

Sonder om te veel van Saterdagaand se konsert weg te gee, kan ek miskien net ‘n paar van die hoogtepunte uitsonder. Adam Barnard was voorheen ‘n lid van die groep Romanz, maar nadat die groep onlangs ontbind het, het hy sy eerste solo-album vrygestel en sommer dadelik besluit om hom op Christelike musiek toe te spits. Hy is besig om groot opgang met sy eerste trefer, Hy is, te maak, en hoewel dit nog nie bekend is water koor (indien enige) saam met die kunstenaars gaan optree nie, het die Hoërskool Oos-Moot van Pretoria se skoolkoor saam met hom gesing, en dit het baie mooi geklink.

Louis Brittz is al langer as twintig jaar in die musiekbedryf, en hy het onlangs sy gewilde album, Kook vir die Koning, weer opgeneem, maar met ‘n paar bykomende nuwe snitte. Hy het egter twee ouer snitte gesing, naamlik sy nuwe weergawe van Psalm 150, en As Hy weer kom, vanaf sy debuutalbum, ‘n Hand vol vars genade, wat in die vroeë 1990’s verskyn het.

Chris Chameleon het al baie verskillende musiekgenres aangedurf, en op sy vorige album, Herleef, het hy ‘n aantal Psalms en ou Gesange nuwe lewe gegee. Twee daarvan is Gesang 36, ook bekend as Landpsalm, en Gesang 276, wat op 1 Korintiërs 13 gebaseer was. Juanita du Plessis is en van die min kunstenaars wat sukses met kommersiële- en Christelike musiek behaal het; sy het die program geopen met Hoe groot is ons God, en later haar trefferliedjie, Opstaan, wat ook ‘n inspirerende boodskap het, gesing. Elvis Blue het onder sy eie naam, Jan Hoogendyk, twee Christelike albums opgeneem voordat hy Idols gewen het. Hoewel hy verlede jaar sy eerste kommersiële Afrikaanse album vrygestel het, het die boodskap van sy eerste twee treffers, Rede om te glo en Spore, by ‘n vertoning soos Gospel-Skouspel ingepas.

As Retief Burger optree, mag jy nie sit nie. Met Heilige Here en Koning van die eeue het hy die gehoor laat opstaan en saamsing, wat natuurlik wonderlik was. Hy en Louis het egter ook die titelsnit van die album In verwondering, wat hulle saam met Neil Buchner en Helmut Meijer opgeneem het, gesing.  Die musiekvideo van hierdie snit verskyn hieronder.

Joe Niemand het al groot sukses as sanger en liedjieskrywer behaal, veral met Ek sal nie bang wees nie, maar die enigste Afrikaanse liedjie wat hy gesing het, was My dans is ‘n dankie. Sy jongste Engelse album, Back again, is onlangs vrygestel, en hy het onder andere die titelsnit daarvan gesing.

Dit is maar net ‘n handjievol van die hoogtepunte; as ek nog meer sou bekendmaak, sou ek die verrassing bederf. Hoe ook al, as jy nog nie jou kaartjies vir Saterdagaand se vertoning gekoop he nie, sal jy gou moet spring; dis teen hierdie tyd moontlik reeds uitverkoop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.