Goud- Adam

GoudSedert hul gelyknamige debuutalbum vier jaar gelede vrygestel is, het Adam een van Suid-Afrika se gunsteling-popgroepe geword.
Nadat hulle dit opgevolg het met hul ewe suksesvolle album, Vir jou gemaak, het een van die stigtersligte, Joe Foster, die groep verlaat en die temaliedjie van die rolprent Pad na jou hart geskryf en gesing. Joe is vervang deur Kyle Grant, maar Reynhardt Hugo en Hugo Ludik is steeds deel van die groep. Hul eerste album sedert Kyle by die groep aangesluit het, Goud, is onlans vrygestel en dit lyk asof dit hul gewildse album tot nog toe gaan wees.
Die eerste snit, Cowboys en crooks is ‘n moontlike treffer, en vertel die storie van ‘n man wat met sy beste vriendin van kleintyd af getroud is. Die volgende snit was die eerste treffer vanaf die album. Sal oorlog vir jou maak is ook by die klankbaan van Pad na jou hart ingesluit en hulle sing dit ook in die rolprent. Die musikale verwerking herinner sterk aan Mumford and Sons se treffer I will wait, en miskien is dit hoekom dit nie ewe gewild op alle radiostasies was nie. Hugo het die titelsnit, wat op die oomblik die treffersnit vanaf die album is, geskryf. Johan Oberholzer het Ek lief jou geskryf; dis jammer dat liriekskrywers onboetvaardig voortgaan om “lief” as ‘n werkwoord te gebruik. Hoeveel keer moet ‘n mens nog sê dat “lief” nooit ‘n werkwoord kan wees nie? Smoorverlief is ‘n komposisie van Hugo en Reynhardt en dit is dalk een van die beste snitte op die album. Sprokie (ek’s nie ‘n prins nie) kan maklik een van die treffers vanaf die album word; dit is ‘n pragtige snit! Ek lewe is nie Anneli van Rooyen se treffer nie, maar eerder ‘n nuwe komposisie van Hugo Ludik. Kyle het gehelp om My vrou te skryf; dit is ‘n baie beter liedjie hieroor as David Fourie se erg sentimentele Vandag maak ek jou my vrou.
My hart smelt het ‘n lekker ritme, en herinner ‘n bietjie aan Mooiste meoldie vanaf hul vorige album. Desiré Gardiner, wat die rol van Daleen in Binneland vertolk, het gehelp om dit te skryf. Sy kan gerus meer gereeld so maak, maar gelukkig is daar nog een snit waarby sy betrokke was. Superster is ‘n komposisie van Reynhardt en Hugo en weer eens is dit ‘n baie goeie snit. Reynhardt en Desiré het Huiloë saam geskryf; dit is wel die “laaste” snit op die album, maar dit beteken nie dat dit ‘n weggooi-snit is nie.
Daar is twee snitte wat as bonussnitte ingesluit; ‘n mens weet nie hoekom nie. Ek wens elke dag is Kersfees is ‘n baie mooi snit wat deur Hugo en Reynhardt geskryf is; en miskien sal dit gereeld rondom die feesseisoen later vanjaar gespeel word. Die ander bonussnit is ‘n baie mooi weergawe van Mr. Big se treffer To be with you. Cindy Alter, die eerstydse hoofsangeres van die groep Clout, sing saam met hulle, terwyl CH 2 kitaar speel.
Dis maklik om te verstan hoekom hierdie album so gewild geword het. Daar is baie snitte met trefferpotensiaal en dit sal moeilik wees om te besluit watter van hulle radiolugtyd gaan kry. Daarom kan ‘n mens nie anders as om dit sterk aan te beveel nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Geen kommentaar

Ronel ·

Ek is mal oor die groep se musiek en dink hulle is meer as goud werd. Hulle musiek is regtig baie verfrissend om na te luister en baie ontspannend. Hulle optredes is fantasties en lig met die humor in dit. Ek is trots om te se dat dit eg Suid Afrikaans is en ek is deel van hulle ondersteuning.

Gerhard ·

Ek wil darem net graag vir die skrywer van een van die liedjies waarna hierbo verwys word, nl. “Ek lief jou”, in die bresse tree. Die woord “lief” word wel in Afrikaans as werkwoord gebruik. Dit is geselstaal en minder gebruiklik, maar kom wel voor. In deel IX van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) ontvang dit selfs twee verskillende betekenisse as werkwoord, nl. “liefhê” en “lief wees vir”. Dit word in die eerste betekenis gebruik in ‘n sin soos “Ek lief jou, Ma”, wat opgeteken is uit ‘n Huisgenoot van 1972. André P. Brink het dit ook as werkwoord in hierdie betekenis gebruik, en wel in die sin “Die vroue wat ek gelief het”. ‘n Mens kan dus nie sê dat dit “nooit ‘n werkwoord kan wees” nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.