Goud en silwer

Steve D

Vir almal wat hou van ʼn pragtige, gesofistikeerde tenoorstem, is daar goeie nuus. Steve D se nostalgiese album, Goud en Silwer het pas die lig gesien. Op hierdie album sing Steve D ’n rits goue ou treffers en twee van Jan Pohl se liedjies, “Kom saam vanaand” en “Sawends” is spesiaal vir die album uit die argiewe opgediep. Swierige Afrikaans inderdaad! Hierbenewens is daar ander ou gunstelinge soos “Goud en Silwer”, “Crystal Chandeliers” en ook twee leenliedjies van Dean Martin, “On an evening in Roma” en “The man who plays the mandolino”. Die rustige nostalgiese aard van hierdie album pas Steve D se heuningstem soos ’n handskoen, en gaan beslis die herinnering na ’n vervloë era terugroep. Die album is ʼn kruisbestuiwing van jazz en swing, en sal in almal wat van goeie melodieë, en betekenisvolle lirieke hou, se smaak val.

Steve het ʼn paar jaar gelede die oog van Mel Botes gevang en gou het daar ʼn platekontrak met Storm Rekordz gevolg. Mel is ook die uitvoerende vervaardiger van hierdie album waarop daar ook ’n liedjie, “London Town” opgeneem is wat Mel geskryf het. “Ek sing al vandat ek 21 jaar oud is en ek moes baie lank wag vir hierdie droom om waar te word,” sê Steve. “My vorige album wat ʼn paar jaar gelede verskyn het is gemaak met ʼn baie beperkte begroting, maar hierdie slag is alles van hoogstaande gehalte. Ons het van die land se topkunstenaars, mense soos Denny Lallouette, Barry Snyman, Leon Ecroignard, David Klassen en Melissa van der Spuy gebruik vir die begeleiding.”

“Ons het behoorlik ʼn soektog op tou gesit om die regte lirieke en oorspronklike melodie van “Kom saam vanaand” op te spoor. Dit was die temalied van Pierre de Wet se fliek, Kom saam vanaand waarin Al Debbo en Frederik Burgers gespeel het en waarin die orkes van Hendrik Susan gehoor kan word. Uiteindelik het Ollie Viljoen vir ons die bladmusiek uitgeskryf soos hy dit kan onthou, en dis heerlik om weer in 2010 ʼn lied wat in 1949 ʼn treffer was, te sing. Ons wag ook tans vir bevestiging, maar die kanse lyk goed dat Kom saam vanaand in ‘n reeks van 26 episodes, wat handel oor ou Suid-Afrikaanse films gebruik gaan word, wat moontlik vanaf Julie hierdie jaar op Kyknet uitgesaai sal word”.
Afgesien van die goue ou snitte op die album, is daar ook vier oorspronklike liedjies opgeneem. Al vier daarvan pas presies in by die aard en die gevoel van die album, en het die vermoë om self goue treffers te word. Die snit “A Saxophone and you”, is geskryf deur Richard van der Westhuizen en “All I can do is swing” deur Leon Ecroignard. Net soos die goue ou snitte op hierdie CD het albei hierdie snitte, asook Mel Botes se “London Town,” ’n lekker ritmiese jazz gevoel.

Benewens die solosnitte is daar twee duette op die album. Die ou ou gunsteling, “When you wish upon a star”, sing Steve saam met Jon Delinger, ’n Malawiër van geboorte wat vir homself naam gemaak het toe hy deelgeneem het aan die Ethno Musiekfees in Swede in 2002. Die rasperstem van Jon komplimenteer Steve se ligte tenoor stem op ʼn wonderlike manier en die hoop waarvan hierdie lied vertel, skemer sterk deur. Die ander duet, is “Goud en Silwer” waar Steve se stem weer moeiteloos saamsmelt met die van Mel Botes. Steve D skryf beslis ook self liedjies, maar het vir hierdie spesifieke album besluit om te steun op van die gesoutste liedjieskrywers in die industrie

SteveD is hier om te bly. Hy is nie verniet ʼn ywerige bewonderaar van die legendariese Frank Sinatra nie. Nes Frank hoop hy om eendag, wanneer hy 80 jaar oud is, steeds op die verhoog te wees. Weliswaar sonder die whisky en die sigaar, sê hy met ʼn glimlag. Hy het sedert Januarie 2011 tot op datum reeds 155 Aftree-oorde en ouetehuise besoek, tot groot vreugde van die seniors wat so smag na die ou musiek. Saam met Beeld bied hy ook gratis konserte aan en beoog Steve D om vir die res van die jaar nog talle Aftree-oorde en ouetehuise te besoek. Hy beklemtoon ook dat hy deur hierdie besoeke graag die nood in seker tehuise wil uitlig en ‘n daadwerklike verskil maak aan die omstandighede van sekere van die tehuise. Steve D het ook pas die Helpende Hand fonds vir Bejaardes van stapel gestuur wat afskop met ‘n toer na verskeie inkopiesentrums in Gauteng vanaf September tot November 2011. Hy sien uit om gedurende 2012 hierdie toer verder na die Kaap, Noord-Wes, Mpumalanga, Natal en Vrystaat te neem. Steve D se weergawe van die liedjie “Kom saam vanaand” kan ook tans gehoor word as tema lied in die Kyknet reeks “Daar doer in die fliek” wat tans op Kyknet uitgesaai word.

Speellys

  1. Goud & Silwer
  2. The man who plays the mandolino
  3. On an evening in Roma
  4. A Saxophone and you
  5. When you wish upon a star
  6. Kom saam vanaand
  7. Sawends
  8. Crystal Chandeliers
  9. Stadig oor die klippe
  10. London Town
  11. All I can do is swing
  12. Bella Notte

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.