Goue Plektrum DVD

Anton Myburgh

Dit is seker een van die grootste wanpersepsies in die musiekwêreld: dat die sanger of vertolker van ‘n liedjie ook die skrywer of skepper daarvan is. Met die uitreiking van sy heel eerste konsert-DVD, Goue Plektrum, gaan die sanger-liedjieskrywer Anton Myburgh die bordjies verhang. En aan een en almal bewys waarom hy met die goue lepel van liedjies skryf in die mond gebore is.

Goue Plektrum, wat in Julie vanjaar in die Barnyard-teater in Vereeniging opgeneem is, is ‘n konsert-versameling van 25 van Anton se grootste treffers. En om dit ‘n ware spoggeleentheid te maak, het verskeie gewilde kunstenaars saam met Anton die verhoog gedeel. Sy gaste sluit in Bobby van Jaarsveld, Manie Jackson, Hugo, MD Greyling, Thys die Bosveldklong, Divvi, Die Campbells, Wicus van der Merwe, Zak van Niekerk, Wynand Strydom en Marlé Retief.

“Baie van my liedjies het al gesorg dat ander kunstenaars goue en platinum-status bereik. ‘n Paar maande gelede het Kobie Koen van Vonk Musiek grappenderwys my die man met die goue plektrum genoem. Ons het toe besluit om dit die titel van die DVD te maak,” vertel Anton.

Die liedjielys is hoofsaaklik treffers wat Anton sedert 2002 vir ander kunstenaars geskryf het, gekombineer met liedjies van sy eie albums, soos Squeeze my en sy heel jongste, Jy’s die water. Anton sing byvoorbeeld Hande as ‘n duet saam met Manie Jackson, terwyl Thys die Bosveldklong Nege maande later afstof. Hugo is daar met Deur die straights, Wicus van der Merwe met Vat hom pappie en Zak van Niekerk met Stofpad. Al waaroor Anton spyt is, is dat Pieter Koen en Dozi nie aan die DVD-konsert kon deelneem nie.

Anton sing sommer heel aan die begin sy Ek sit links voor, Totsiens, hallo goodbye asook Boer en sy roer. “Aangesien ek hulle geskryf het, weet ek hoe om my liedjies te vertolk. Die lekker is daarin geleë dat my liedjies vir baie mense betekenis het. My liedjies het uiteenlopende onderwerpe en stories.”

Buiten die konsert wat met ‘n orkes opgeneem is, is daar ook drie bonus-video’s. Jy’s die water, Tune Tune Baboon en Visgat is by die Goue Plektrum-pakket ingesluit.

Anton is gek oor konsertoptredes waar hy veral die energie van die gehoor en sy band geniet. Daar is immers nie ‘n tweede kans nie en in sekere omstandighede moet hy as kunstenaar “van die heup af skiet”.

Goue Plektrum is ‘n glinsterende versameling van Anton se mooiste melodieë en lirieke, wat sal sorg dat nog meer mense nou van dié talentvolle liedjieman sal kennis neem. (Vonk Musiek)

Speellys

1. Ek sit links voor
2. Totsiens,hallo goodbye
3. Katrina
4. Nege maande later
5. It’s over now
6. Boer en sy roer
7. Hande
8. Sexy hande
9. Spinnekop
10. Stofpad
11. Sal jy my meisie wees
12. Bikkini
13. Freighttrain
14. Jy’s die water
15. Vat hom pappie
16. Reenboog
17. Stay
18. Squeeze my
19. Dankie vir die jare
20. Fonteintjie
21. Duisend bottels
22. Saartjie van biessiesvlei
23. Faantjie
24. Deur die straights
25. Dream masjien

Bonus Video’s :
1. Jy’s die water
2. Tune Tune Baboon
3. Visgat

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.