Grammy-benoemings vir 2018 bekend gemaak

James Corden, die seremoniemeester (Foto: Grammys/Getty Images)

Die benoemings vir die 60ste jaarlikse Grammy-toekennings is Dinsdag aangekondig.

Volgens die Los Angeles Times neem die kletsrymers Jay-Z en Kendrick Lamar voortou met onderskeidelik agt en sewe nominasies. Die sanger Bruno Mars is vir ses toekennings benoem.

Die verwerkte weergawe van Luis Fonsi en Daddy Yankee se treffer “Despacito” saam met Justin Bieber, een van die jaar se grootste treffers, is die eerste nie-Engelstalige liedjie wat genomineer is in die liedjie van die jaar- én opname van die jaar-kategorie.

Alessia Cara en Julia Michaels is albei benoem in die kategorie vir nuweling van die jaar. Lady Gaga is benoem vir beste pop-solovertoning vir haar treffer “Million Reasons”, sowel as beste pop-album vir “Joanne”.

Leonard Cohen se album “You want it darker” is benoem in die kategorie vir beste rock-vertoning, terwyl Lady Antebellum se “Heart Break” en Kenny Chesney se “Cosmic Hallelujah” benoem is vir beste country-album.

Die toekenningsgeleentheid word op 28 Januarie in New York gehou. Die Amerikaanse televisienetwerk CBS sal die geleentheid regstreeks vanaf Madison Square Garden beeldsaai. James Corden van The Late Late Show en Carpool Karaoke-faam sal die geleentheid aanbied.

Dit sal die eerste keer wees sedert 2003 dat die geleentheid buite Los Angeles plaasvind.

Kyk hier na die volledige lys benoemings.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Rupert Ashford ·

Ooeeee weer ‘n lekker Trump-bashing sessie. Ek sal elukkig my goudvissie moet babysit terwyl dit gebeeldsend word…sug.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.